AHi bring plaaslike sakekamers byeen

2. Lede van Oudtshoorn besigheidskamer het die OBK by Vrydag se AHi seminaar verteenwoordig. Hier staan hulle saam met die gasprekers, asook Willie Cilliers, voorsitter van die AHi (links).

Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) het Vrydag 22 Mei sy Wes-Kaap seminaar vir 2026 in George aangebied, met sowat 60 gaste van verskeie sakekamers wat die geleentheid bygewoon het.

Verteenwoordigers van Uniondale, Mosselbaai, Heidelberg, Pacaltsdorp, Calitzdorp, Stilbaai, Oudtshoorn, George en Knysna het saamgekom met die doel om groter samewerking tussen sakekamers in die streek te bevorder en sterker bande tussen dorpe te vestig. ’n Verdere fokus van die dag was om sakekamers voor te berei op hul rol in die aanloop tot die verkiesing en die moontlike impak wat politieke ontwikkelinge op die ekonomie en sakewêreld kan hê.

Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi, het tydens die seminaar ’n oorsig van die organisasie se fokus en doelwitte vir 2026 gegee. Hy het ook aangekondig dat vanjaar se AHi-kongres op 18 September in Stilbaai aangebied gaan word.

Een van die dag se sprekers, prof. Jannie Rossouw, het gepraat oor Suid-Afrika as ’n land wat “huiwer tussen hoop en wanhoop”. Hoewel die tema op die oog af negatief klink, was sy boodskap oorwegend positief en hoopvol.

Volgens Rossouw het Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte verbeter sedert die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) aan bewind gekom het. Hy het daarop gewys dat die land steeds oor wêreldklas universiteite beskik en dat die landbousektor aanhou groei en steeds daarin slaag om die land te voed én produkte uit te voer.

Hy het egter benadruk dat daar steeds verskeie uitdagings bestaan, waaronder swaar belasting op individue en ondernemings, asook die konflik in die Midde-Ooste wat ’n rimpel-effek op die Suid-Afrikaanse ekonomie en plaaslike sakeondernemings het.

“Daar is ongelukkig geen ander alternatief op die oomblik nie, daarom moet die RNE saamwerk,” het Rossouw gesê.
Op sy beurt het Christo van der Rheede die kollig geplaas op die landskap van klein sakeondernemings in Suid-Afrika. Sy toespraak het gefokus op grondwetlike en strukturele werklikhede, asook alternatiewe roetes na groei en ekonomiese ontwikkeling vir die toekoms.

“Die doel van die ekonomie is om almal in staat te stel om te floreer,” het hy gesê.

Volgens Van der Rheede is daar tans sowat 2,96 miljoen klein sakeondernemings in Suid-Afrika wat verantwoordelik is vir ongeveer 9,3 miljoen werksgeleenthede — tussen 50% en 60% van die land se totale werksmag.

Hy het egter daarop gewys dat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer tans op 32,7% staan, waarvan ongeveer 60,9% jongmense is wat werkloos is.

“Ongelukkig faal sowat 70% tot 90% van nuwe besighede binne die eerste vyf jaar,” het Van der Rheede gesê.
Hy het verder verduidelik hoe buitelanders dikwels suksesvolle besighede bedryf deur sterk samewerking, ondersteuning en gedeelde hulpbronne. Volgens hom kan Suid-Afrikaanse besighede groot vooruitgang maak indien sakeondernemings soortgelyke beginsels van samewerking en nuwe denke begin toepas.

Marais Kruger, burgemeester van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, het ook tydens die seminaar terugvoer gegee oor die huidige stand van die ramptoestand in die Suid-Kaap. Hy het veral gefokus op die impak wat die onlangse storms, vloede en infrastruktuurskade op verskeie dorpe en gemeenskappe in die streek gehad het.

’n Verteenwoordig van Tuinroete Rampbestuur en van George brandweer Deon Stoffels, het gaste ook ingelig oor die uitdagings in die streek. “Afgesien van die verwoe-sting in die area, het die brandweer tot datum ongelooflik baie bome opgesaag.
Die publiek het ook moue opgerol en ingespring en dit was wonderlik om die samewerking te sien,” het hy vertel. (ANGELIQUE ERASMUS)