Wantrouemosie plaas speaker onder vergrootglas

’n Mosie van wantroue teen die speaker van die Oudtshoorn Munisipale Raad, Suzane Jansen, is deur die VF Plus, DA en Icosa ingedien.

Die mosie, wat op Woensdag 20 Mei ingedien is, dien op die agenda van die volgende algemene raadsvergadering wat vir Vrydag 29 Mei geskeduleer is.

Die mosie volg op ernstige bewerings en dokumentasie wat volgens die partye vrae laat ontstaan oor die speaker se integriteit, onpartydigheid en die behoorlike funksionering van haar amp.

Die bewerings sluit onder meer in onreëlmatige tenderprosesse, onbehoorlike besteding van munisipale fondse, wanadministrasie rakende borgskappe en geleenthede, moontlike misbruik van munisipale hulpbronne, asook die hantering van raadsvergaderings.
Daar word ook verwys na die beëindiging van ’n raadsvergadering op 30 April 2026.

Terselfdertyd het die VF Plus ’n kriminele klag by die Oudtshoorn-polisie aanhangig gemaak rakende beweerde onreëlmatige tenders, finansiële ondersteuning en die moontlike misbruik van openbare fondse.

Adjudant-offisier Chris Spies, woordvoerder van die SAPD in die Suid-Kaap, het op navraag bevestig dat die saaknommer (Oudtshoorn MAS 421/05/2026) verband hou met ’n bedrogsaak wat op 20 Mei 2026 in Oudtshoorn geopen is.

Volgens Spies is die ondersoek nog in ’n vroeë stadium en is die polisie tans nie bereid om besonderhede oor enige moontlike betrokke individue bekend te maak nie.

Raadslid Johan Allers van die VF Plus het Woensdag aan Die Hoorn gesê die mosie verteenwoordig ’n toets van beginselvastheid vir politieke partye in die raad.

Allers het beklemtoon dat die klagtes nie net die speaker impliseer nie, maar ook ’n ketting van senior en junior amptenare binne die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat volgens die VF Plus deel vorm van die beweerde goedkeuringsproses.

“Ek het daarop aangedring dat almal aangekla word,” het Allers gesê.

Die Oudtshoorn Munisipale Raad bestaan tans uit 25 raadslede.

Die huidige regerende groepering beskik oor 13 setels, bestaande uit die ANC (6), PA (3), Good (1), OGI (1), Advieskantoor (1) en Saamstaan (1). Die opposisie, bestaande uit die DA (7), VF Plus (3) en Icosa (2), beskik oor 12 setels.

Met 13 stemme wat vir ’n gewone meerderheid benodig word, kan die uitkoms van die mosie van wantroue uiteindelik bepaal word deur hoe individuele partye en raadslede stem wanneer dit voor die raad dien. (KORRESPONDENT)

Lees ook:

Kontantlose toekoms? Raad kyk na nuwe betaalstelsels

Oudtshoorn Municipality offers a chance to write off 40% of arrears

Date set for 2026 municipal elections