Jong Klein Karoo danser beïndruk internasionaal

Hesri le Roux oefen reeds die afgelope vier jaar hard aan haar passie vir dans.

’n Talentvolle jong ballerina van Ladismith maak reeds internasionaal naam nadat sy onlangs ’n silwer toekenning ontvang het tydens ’n wêreldbekende danskompetisie.

Hesri le Roux (10), ’n Graad 5-leerder aan Shalom Akademie, neem reeds die afgelope vier jaar danslesse. Sy het onlangs in die danskategorie, spesifiek ballet/pointe, aan Talent Africa deelgeneem, waar sy eers na die nasionale rondte deurgedring het en haar FPASA provinsiale kleure ontvang het, voordat sy verder gekwalifiseer het om in Spanje deel te neem.

Daarna het sy aan die internasionale aanlynkompetisie, Stars of the Universe, deelgeneem waar sy ’n silwer toekenning ontvang het. Sy het ook haar FPASA nasionale kleure ontvang.

Volgens haar ouers, Hestelle le Roux en Gerrit le Roux, het Hesri se passie vir dans sowat twee jaar gelede verder begin ontwikkel nadat sy die rolprent Feel the Beat gekyk het. Dit het haar geïnspireer om ’n choreografie-dans vir haar eksamen by haar afrigter, Ina Jooste, voor te berei.

“My mamma het my gehelp om die dans uit te werk, en ons het baie hard saam geoefen. Ek het baie goed gevaar in my eksamen, en dit het my nog meer gemotiveer om aan te hou dans en my drome na te jaag,” vertel Hesri.

Vir Hesri is dans meer as net ’n stokperdjie. “My gunsteling deel van dans is dat ek myself kan wees en my gevoelens kan wys. Ek hou daarvan om my hart uit te dans en baie pret te hê wanneer ek dans.”

Die nuus dat sy nie net vir die nasionale rondte gekwalifiseer het nie, maar ook die geleentheid sou kry om in Spanje deel te neem, was vir haar byna onwerklik.

“Ek kon dit nie glo nie! Spanje van al die plekke in die wêreld! Ek het gedink: ‘Wow, ek gaan oorsee!’ Ek was baie opgewonde en gelukkig. Gelukkig was daar ook ’n aanlyn opsie vir Stars of the Universe, en toe kon ek daarvoor inskryf. Dit was een van die spesiaalste oomblikke van my lewe, en ek was baie trots op myself.”

Hoewel sy baie opgewonde was oor haar prestasie, sê Hesri die kompetisie het ook uitdagings gehad. Omdat sy haar skoolwerk, dansklasse en oefening moes balanseer, het die meeste van haar voorbereiding oor naweke plaasgevind.

“Die moeilikste deel was om my senuwees onder beheer te hou, maar tannie Ina en my gesin het my altyd rustig gehou en aangemoedig.”

Hestelle vertel hulle ondersteun Hesri op elke moontlike manier. “Ons ondersteun haar deur haar aan te moedig en haar oral heen te neem waar sy moet wees. Vir my as mamma is dit ’n groot voorreg om haar kostuums, hare en grimering vir kompetisies te doen. Ons geniet dit om deel van haar dansreis te wees.”

Haar ouers sê dit was ’n baie emosionele oomblik toe hulle hoor sy het internasionaal gekwalifiseer.

“Woorde kan nie beskryf hoe trots ons gevoel het nie. Daar was beslis trane van blydskap. Ons as ouers, familie en afrigter is ongelooflik trots op Hesri. Sy verdien elke bietjie van hierdie sukses vir al haar harde werk, deursettingsvermoë en toewyding.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe sy nie net as danser gegroei het nie, maar ook as mens. Die selfvertroue wat sy ontwikkel het, is vir ons baie spesiaal.” Volgens hulle is dit belangrik dat daar altyd balans tussen skoolwerk, dans en gewone kinderwees moet wees.

“Ons wil hê sy moet haar kinderjare geniet terwyl sy haar passie uitleef. Niemand kan van jou wegneem waarvoor jy eerlik en hard gewerk het nie, en ons hoop dit is ’n les wat haar deur haar hele lewe sal bybly.”

Wanneer sy nie dans nie, geniet Hesri dit om juffrou-juffrou te speel en tyd saam met haar hondjies deur te bring.

Sy oefen tans hard vir haar volgende groot uitdaging, die Talent Africa-kompetisie in Junie, en droom daarvan om vanjaar ’n goue toekenning te wen. (MALISSA SPIES)

Lees ook:

SWDMCA skop 2026-seisoen met groot opwinding af

Marnus skitter eersdaags op internasionale verhoog

Klein Karoo se natuurskoon en talent steel die kollig