Marnus mik vir internasionale titel

Marnus Botha wat verlede jaar onder die Top 5 finaliste vir Mnr Suid-Afrika was. Foto: RB Studios

Nadat die oud-Gimmie, Marnus Botha, verlede jaar een van die vyf finaliste van Mnr Suid-Afrika was, het hy besluit om aan die Mnr Global Suid-Afrika deel te neem.

“Daar het soveel deure vir my oopgegaan in die media- en vermaaklikheidsbedryf dat ek nie anders kon as om elke geleentheid met ope arms te verwelkom nie. Ek het al verskeie oudisies vir model-geleenthede, films en advertensies afgelê en sien my reis in Mnr Global Suid-Afrika as nog ’n groot internasionale platform om mense te motiveer en te inspireer om hulle drome na te streef ongeag hulle agtergrond of omstandighede,” sê hy.

Mnr Global is ’n wêreldwye skoonheidskompetisie vir mans wat sedert 2014 aangebied word. Verlede jaar het meer as 70 lande en streke deelgeneem. Oor verlede jaar se wenner sê Botha: “Anton Siebert van Mosselbaai wat Mnr Global Suid-Afrika in 2024 gewen het, is ’n groot inspirasie en rolmodel vir my. Hy het ook baie goed presteer tydens die internasionale Mnr Global waar hy deel van die Top 20 was. Ek sal graag in sy voetstappe wil volg en die groter Garden Route streek trots maak.”

Hy sê die nasionale kompetisie is meer as ’n skoonheidskompetisie, want die organisasie is ook op soek na inspirerende mans wat rolmodelle en leiers in hule gemeenskappe sal wees om die land te verteenwoordig by die internasionale Mnr Global-kompetisie in Thailand later vanjaar.

Natuurlik is die prysgeld vir Mnr Global Suid-Afrika ter waarde van R160 000 nie te versmaai nie. Botha is reeds aangewys as een van die top 9 nasionale finaliste wat op 26 Julie in Pretoria gaan meeding. Intussen moet hy spesifieke uitdagings teen sperdatums voltooi wat insluit om publieke stemme te kry, by ’n liefdadigheidsorganisasie betrokke te raak en debutantfooie in te samel.

Hy het die Somerset West Night Shelter gekies as sy liefdadigheidsorganisasie. Dit is in 1988 gestig en het begin deur slegs enkellopende volwassenes in die Helderberg-omgewing in te neem. Sedert 2020 het hulle uitgebrei om ook hawelose gesinne met kinders te akkommodeer.

Wat sou hy met die titel as Mnr Global Suid-Afrika doen sou hy wen?
“As ek die eer sou hê om as die volgende Mnr Global Suid-Afrika 2025 gekroon te word, wil ek my huidige werksomgewing by die Stad Kaapstad in die infrastruktuurbeplanning en diensleweringsomgewing gebruik en dit kombineer met die Mnr Global Suid-Afrika platform om gemeenskappe te bereik wat agtergelaat word en om diegene op te hef wat voel hulle het alle hoop verloor.”