Elfjarige Reuben ʼn inspirasie vir ander

Na ’n fratsongeluk op 1 Maart waarin sy linkeroog se lens beskadig is, en hy omtrent geen sig in die oog gehad het nie, het Reuben Terblanche besluit om self in te spring en fondse vir sy behandeling in te samel. Dié 11-jarige het met ’n veldtog, “Eye believe in Reuben,” begin en sokkies verkoop.

Hy het reeds bykans 500 pare verkoop. Hy wil graag die projek uitbrei om later ook ander kinders met oogprobleme te help.

Die pad na herstel vir Reuben is een wat oor ’n lang termyn sal wees en daarom is daar ook ingespring en ’n “Back-a-buddy Campaign” gestig, om mediese onkostes wat nie deur die mediese fonds gedek word nie, te betaal.

Die Hoorn het hierdie week tussendeur dié dinamiese seun se besige skool- en sportprogram, saam met hom koffie gedrink. Dit is duidelik dat hy nie toegelaat het dat die ongeluk sy siening of houding bepaal nie en hy is steeds ’n kranige tennis- en gholfspeler. Hy kan egter nie tans rugby speel nie, aangesien die risiko te groot is dat sy oog weer kan seerkry.

Dit is nog nie bekend wanneer hy ’n lensvervanging sal ondergaan nie. Daar is tans steke in sy oog wat hy na die ongeluk ontvang het, wat eers verwyder moet word. Vier van die nege steke is reeds op 24 April verwyder en die lens het reeds tot ’n redelike mate herstel. Die skade is egter van so ’n aard dat die lens steeds vervang moet word. Hy het ook reeds sowat 70% sig in die beskadigde oog herwin.

Met die fondse wat ingesamel is, en sy sokkie-verkope wil hy graag geld aan “Blind Loyalty” skenk. Die organisasie help persone met onkostes vir kornea-oorplantings.

“Reuben het die slegte ervaring gevat en verander in iets wat goed kan wees,” vertel sy ma Chrisna. “Die moeilikste is die wag, maar ons het ’n wonderlike gemeenskap wat ingeklim het en Reuben ondersteun en help en ons elke dag dra, en daarvoor is ons uit ons harte dankbaar,” het sy gesê.

Selfs vriende van vêr help om die veldtog te dryf.

Om Reuben te ondersteun of om sokkies te koop, besoek gerus na sy Back-a-Buddy-blad of volg hom op Facebook en Instagram. (ANGELIQUE ERASMUS)