Die boeredag van die Wes-Kaap departement van landbou in samewerking met Klein Karoo Agri wat Woensdag 21 Mei, by die Navorsingsplaas net buite Oudtshoorn aangebied is, was ’n reusesukses.
Nie eens die koue weer kon boere en hul gades stuit om hierdie dag by te woon nie. Kundige sprekers het insiggewende onderwerpe aangeroer. Om volhoubaar saam met die natuur te boer, is deur Jaco Engelbrecht van Agrofors bespreek.
Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap het gesels oor verantwoordelike waterbestuur en verbruik en Charles Salmon het gesels oor die ekonomie van bye en gevra “Is groter beter?”
Na ’n kort pouse het Dr Jasper Cloete gesels oor effektiewe teling en seleksie, waarna Ivahn van Niekerk van Afrivet meer vertel het oor parasiete en siektebeheer. Andre Lindenberg het die dag afgesluit met die onderwerp van tegnologie as hulpbron.
Uitstallers het veskeie landbouprodukte uitgestal en inligting met belangstellendes gedeel. Die uitstalling van blink voertuie en trekkers het veral aandag getrek.
Middagete met heerlike volstruis-steak oor die kole met braaibroodjies en slaai is aan die 200 gaste voorgesit.
Volgens die organiseerders beplan hulle ’n nóg groter dag vir volgende jaar. (ANGELIQUE ERASMUS)
Boeredag uitstekend
Foto verskaf