De Rust-katte gesteriliseer

Foto's: Hannes Visser

’n Katliefhebber van De Rust en vrywilligers het met die hulp van C.A.T Garden Route reeds verlede Vrydag, 23 Mei, begin om wilde katte wat rondom die dorp woon, te vang sodat hulle hierdie week gesteriliseer kan word. Volgens die inwoner het die aantal “feral”-katte in die bosse rondom die dorp geweldig toegeneem.

Hulle het tot so ’n mate aangeteel dat voëllewe en klein diertjies en reptiele in die veld bedreig word. ‘Feral’-katte is katte wat nie eienaars het nie en vir hulle eie oorlewing sorg.

Die NSP (National Sterilisation Project) wat landswye sterilisasie-programme doen, is deur C.A.T en vrywilligers van De Rust gekontak om die sterislisasie-projek te loods waartydens ten minste 100 katte Maandag en Dinsdag gesterliseer is.

Twee veeartse verbonde aan Ebervet Community Veterinary Care, ’n assistent en vrywilligers het Maandagoggend met die eerste sterilisasie begin. Tydens Die Hoorn se besoek aan die kerksaal was daar reeds 52 katte in hokke wat gereed was vir sterilisasie. Teen Dinsdagoggend was 53 sterilisasies reeds gedoen en nog 43 katte was in hokke op die waglys.

Volgens een van die veeartse word mannetjies en wyfies gesteriliseer en dan weer vrygelaat nadat hulle van die narkose herstel het. Die sterilisasie word deur NSP befonds.

In Oudtshoorn beywer Lee-Ann van Sittert van die Cat Hotel haar deurlopend vir die sterilisasie van katte. Sy is juis die afgelope week besig om katte op die terrein van korrektiewe dienste te vang vir sterilisasie. Sy kry egter geen fondse hiervoor nie, maar die veeartse lewer die diens teen ’n verminderde koste.

Volgens haar is ‘feral’-katte ’n enorme probleem in Oudtshoorn ook. Sy sê mense voel jammer vir die katte en voer hulle, maar die katte word nie gesteriliseer nie en soms word die probleem deur goedbedoelde-optrede vererger.

Sy is tans besig om ’n sterilasie-veldtog vir honde en katte van Blomnek, De Rust te reël in samewerking met veeartse van die Kaap wat hulle dienste hiervoor beskikbaar stel.

Mense wat Hulp wil verleen of navrae oor katte-kwessies het kan Lee-Ann van Sittert by 083 334 0172 kontak. (HANNES VISSER)