Museum bly steeds gesluit

CP Nel Museum is vanaf 2 Januarie vir die publiek gesluit. Foto: Hannes Visser

Kwessies ten opsigte van die bestuur van die CP Nel Museum het die afgelope vyf jaar reeds wye dekking in die media ontvang. Dit blyk dat daar tans daadwerklike pogings aangewend word om die kwessies by te lê sodat die museum weer ’n voorkeur toeristebestemming in Oudtshoorn kan wees.

Die raad van trustees van die CP Nel Museum het reeds op 2 Januarie aangekondig dat die museum gesluit is terwyl dringende aandag aan bestuurskwessies gegee word. Herman Labuschagne, voorsitter van die raad van trustees, het dié aankondiging in ’n persverklaring gemaak.

Die bestuurder van die museum, Moses Mthethwa, het op Facebook reageer en gesê die museum is nie gesluit nie.

Volgens Labuschagne aanvaar Mthethwa nie die gesag van die raad van trustees nie en steur hy hom glo ook nie aan opdragte van die departement van sport en kultuursake onder wie museums resorteer nie. Mthethwa moes in Januarie die sleutels van die museum aan Labuschagne oorhandig.

Kwessies wat die afelope aantal jare die CP Nel Museum in die kollig geplaas het, was onder andere dispute oor die onderverhuring van geboue en finansiële vrae wat deur die Vriende van die museum gevra is oor meer as ’n miljoenrand wat deur hulle ingesamel is en klaarblyklik deur die museum spandeer is.

Verlede jaar het die munisiplaiteit ook gedreig om die museum se huur-kontrak op te skort as gevolg van konflik wat ontstaan het.

In reaksie op onlangse navrae aan die departement van kultuursake en sport het hulle hoof van kommunikasie, Tania Colyn, hierdie week gesê die museum word beheer deur ’n raad van trustees wat deur die departement erken word.

Die provinsiale minister van kultuursake en sport het op 2 Desember 2024 die aanstelling van die huidige raad van trustees goedgekeur. Volgens haar het die raad van trustees op 31 Desember die besluit geneem om die museum tydelik te sluit sodat verskeie kwessies aangespreek kan word en daar weer vertroue in die werking van die museum kan wees.

Die sluiting van die museum het die volle ondersteuning van die departement van kultuursake en sport aangesien daar onder andere kommer is oor die museum se finansies.

Sy het ook bevestig dat ’n volledige forensiese ondersoek deur die provinsie se forensiese dienste verlede jaar by die museum uitgevoer is. Die bevindinge van die ondersoek sal bepaal watter stappe geneem sal word.

Volgens haar sal die museum ten minste tot die einde van Januarie gesluit bly. Sy het die versekering gegee dat die huidige kwessies geen invloed op die KKNK se gebruik van die museumperseel sal hê nie.

Navrae is ook aan Mathethwa ge-stuur, maar geen reaksie is ontvang nie. (HANNES VISSER)