Man bly in aanhouding tot borgaansoek

’n 38-Jarige man wat van die statutêre verkragting van ’n 14-jarige meisie aangekla word, het Dinsdag (4 Augustus) vlugtig in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.

Die saak het voor landdros M.C. Ndwandwe gedien en is tot gister, Donderdag (6 Augustus) uitgestel, wanneer die beskuldigde formeel om borgtog sal aansoek doen. Hy bly tot dan in aanhouding.

Die man is Maandag (3 Augustus) in Oudtshoorn in hegtenis geneem nadat die Oudtshoorn Gesinsgeweld-, Kinderbeskermings- en Seksuele Misdrywe-eenheid ’n ondersoek ingestel het na bewerings dat ’n 14-jarige meisie tussen Maart en April 2026 seksueel misbruik is.

’n Saak van statutêre verkragting is geregistreer en die polisieondersoek duur voort.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het intussen, na aanleiding van navrae oor die bewerings, gesê dat aantygings van dié aard ernstig opgeneem word. Volgens ’n verklaring, is die aangeleentheid ná ontvangs van ’n verslag na die WKOD se direktoraat vir arbeidsverhoudinge verwys vir ’n formele proses.

Die skoolhoof wat deur Die Hoorn om kommentaar genader is, het alle navrae na die WKOD se hoofkantoor verwys en dat die WKOD die toepaslike inligting oor die aangeleentheid kan verskaf.

Waarom die beskuldigde nie geïdentifiseer word nie
Die Hoorn publiseer nie in hierdie stadium die beskuldigde se naam, foto, werkplek of ander besonderhede wat tot sy identifisering kan lei nie.

Artikel 154(2)(b) van die Strafproseswet beperk die publikasie van inligting rakende ’n seksuele aanklag nadat ’n beskuldigde in die hof verskyn het, maar voordat hy formeel op die aanklag gepleit het. Die beskuldigde het tydens Dinsdag se verrigtinge nog nie gepleit nie.

Artikel 154(3)(a) verbied ook die publikasie van enige inligting wat die identiteit van ’n kind teen wie ’n misdryf na bewering gepleeg is, bekend kan maak.

Besonderhede oor ’n beskuldigde se beroep, werkplek of verbintenis met ’n bepaalde instelling kan in ’n klein gemeenskap moontlik ook tot die identifisering van die minderjarige klaer lei.

Nóg die amptelike mediaverklaring van die Suid-Afrikaanse Polisiediens nóg die inligting wat tydens die hofverskyning bekend gemaak is, het bevestig dat die beskuldigde ’n onderwyser is of by ’n bepaalde skool werk.

Die Perskode vereis dat nuus waarheidsgetrou, akkuraat en billik berig moet word en dat inligting waaroor daar twyfel bestaan, sover moontlik geverifieer moet word. Dit vereis ook besondere sorg wanneer daar oor kinders en slagoffers van seksuele misdrywe berig word.

Die Hoorn kan daarom nie gerugte of inligting wat in die gemeenskap en op sosiale media versprei word, as bevestigde feite publiseer wanneer dit nie deur die polisie, die hof of ’n ander betroubare bron bevestig is nie.

Selfs wanneer lede van die gemeenskap meen dat hulle weet wie die betrokkenes is, beteken dit nie dat ’n koerant die inligting wettig of verantwoordelik mag publiseer nie.

Die publikasie van verdere besonderhede kan heroorweeg word nadat die beskuldigde formeel gepleit het en die inligting deur amptelike, betroubare bronne bevestig is. Die beskerming van die minderjarige klaer sal egter deurgaans voorrang geniet.

Die beskuldigde word ingevolge die reg as onskuldig beskou totdat sy skuld bo redelike twyfel in ’n hof bewys is. (ANGELIQUE ERASMUS)