Die Oudtshoorn-streekhof het Maandag die aansoek van Marthinus Rabie (61) en sy vrou, Johanna Rabie (60), om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnisse van die hand gewys.
Die egpaar is op 34 aanklagte van bedrog skuldig bevind en elk tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Die saak is reeds sedert 2016 in die hof en duur dus sowat tien jaar.
Johanna Rabie se twee beslote korporasies, Attakwa Ontwikkelings en Gwaiing Ontwikkelings, is elk ’n boete van R500 000 of vyf jaar gevangenisstraf opgelê. Die vonnisse is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.
Die hof het bevind dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus van die Wes-Kaapse departement van landbou by die Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou en haar ondernemings tot nadeel van sy werkgewer bevoordeel het.
Volgens die hof is die staat uit meer as R3 miljoen bedrieg, terwyl die departement van landbou volgens slagofferimpakverslae verliese van meer as R12 miljoen gely het.
Streeklanddros Daniel Boks het tydens vonnisoplegging die 34 aanklagte vir vonnisdoeleindes saamgeneem. Hy het gesê die misdade is oor ’n lang tydperk en uit gierigheid gepleeg en dat die beskuldigdes geen tekens van berou getoon het nie.
Volgens Boks moes die vonnis ’n sterk boodskap aan die beskuldigdes en ander voornemende bedrieërs stuur.
Die egpaar se regsverteenwoordiger, adv. Henry van Breda, het ná vonnisoplegging aangevoer dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kon kom.
Hy het onder meer aangevoer dat die hof te veel klem op die departement van landbou se slagofferimpakverslae geplaas het en nie voldoende aandag aan die egpaar se persoonlike omstandighede, waaronder hul ouderdomme, gegee het nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die aansoek teengestaan en aangevoer dat die hof nie met die skuldigbevinding of vonnisoplegging gefouteer het nie. Hy het ook verwys na ander sake waarin kleiner bedrae ter sprake was, maar swaarder vonnisse opgelê is.
Boks het in sy uitspraak gesê hy staan by die hof se bevinding en dat die slagofferimpakverslae nie oorbeklemtoon is nie. Die hof het volgens hom al die getuienis en omstandighede in geheel oorweeg.
Hy het die verdediging se voorstel dat die egpaar geskikte kandidate vir korrektiewe toesig is, as onvanpas beskryf.
“Die hof het reeds agteroor gebuig deur die 34 aanklagte vir vonnisdoeleindes saam te neem,” het Boks gesê.
Volgens hom sou die vonnis skokkend swaar gewees het indien die egpaar afsonderlike vonnisse vir elke aanklag opgelê is.
“Die vonnis is, gesien in die lig van die erns van die misdade en die wyse waarop dit gepleeg is, glad nie buitensporig swaar nie.”
Die hof het bevind dat daar nie ’n redelike vooruitsig bestaan dat ’n ander hof tot ’n ander bevinding of ’n ligter vonnis sal kom nie en het die aansoek tot appèl geweier.
Die verdediging het daarna aangedui dat die egpaar die hooggeregshof deur middel van ’n petisie om verlof tot appèl sal nader.
Hulle beoog ook om aansoek te doen om borgtog hangende die uitslag van die proses. (GARNETT WICOMB)
Uit die hof: Rabie-egpaar se aansoek om verlof tot appèl geweier

Be the first to comment on "Uit die hof: Rabie-egpaar se aansoek om verlof tot appèl geweier"