Die Kammanassieberge, wat vanaf die Kammanassiedam in die weste tot by Uniondale in die ooste strek, speel ’n belangrike rol as opvangsgebied vir die Kammanassiedam.
Die bergreeks lê ongeveer halfpad tussen die Swartberge in die noorde en die Outeniquaberge in die suide, met verskeie riviere en stroompies wat water uit die berge na die dam voer.
Die afgelope week se goeie reën het weer ’n groot hupstoot aan dié opvangsgebied gegee, met neerslae van tot 90 mm wat in dele van die Kammanassierivier se opvangsgebied gemeet is.
Die gebied het reeds sowat 860 mm reën in die eerste agt maande van die jaar ontvang – die hoogste reënval sedert 1981.
Die Kammanassiedam loop intussen reeds vir meer as drie maande oor, nadat die dam tydens die swaar reën en vloede in die eerste week van Mei begin oorloop het.
Die besonder goeie reënjaar en voortgesette invloei uit die Kammanassieberge hou dié belang-rike waterbron vir die Klein Karoo steeds tot oorlopens toe vol.
Kammanassieberge voed steeds oorlopende dam
Foto: Morne Jonker
Be the first to comment on "Kammanassieberge voed steeds oorlopende dam"