Inwoners van De Rust en omgewing word eerskomende Saterdag, 15 Augustus, genooi om hul hande vuil te maak en saam te help om die dorp met duisende malvas te verfraai.
Mal’va De Rust se groot plantdag vorm deel van ’n driejaarprojek wat daarop gemik is om die dorp te verfraai, toerisme te bevorder en De Rust uiteindelik as die land se malva-hoofstad te vestig.
Die plantdag sou aanvanklik Maandag 10 Augustus plaasvind, maar is weens die reën en koue uitgestel.
Vrywilligers kom Saterdag om 09:00 by die NG Kerk op De Rust bymekaar. Die dag se plantprogram sal daar bespreek word, waarna deelnemers na verskillende dele van die dorp sal vertrek om die steggies te plant.
Mense wat wil saamplant, word gevra om indien moontlik ’n graaf en pik saam te bring. Sand en kompos word voorsien.
Deelnemers word ook aangemoedig om ná die plantdag eie-naarskap van die nuwe aanplantings te neem en te help om hulle aan die groei te kry. Die plante moet aanvanklik elke twee weke deeglik natgemaak word.
Kan jy nie daar wees nie?
Diegene wat verder weg woon of om enige rede nie Saterdag self kan saamplant nie, hoef nie die geleent-heid mis te loop om deel van Mal’va De Rust te wees nie.
’n Malva kan vir R50 geborg word, waarna dit as deel van die projek geplant sal word. Borge sal ook op hoogte gehou word van hul plant se groei.
Mense kan verder help deur malvasteggies, kompos of sand tot die projek by te dra. Bydraes kan ook deur Mal’va De Rust se Backa-Buddy-veldtog gemaak word, terwyl bankbesonderhede vir direkte depo-sito’s op aanvraag beskikbaar is.
Saterdag is die eerste groot plantdag van die projek, maar nog nie die amptelike bekendstelling daarvan nie.
Dié bekendstelling word tydens Erfenisnaweek van 24 tot 27 September beplan, wanneer ’n fees ook op De Rust gehou sal word.
Mal’va De Rust het ontstaan uit pogings om weer besoekers na die dorp te lok en het sedertdien tot ’n groter langtermynprojek vir dorps-verfraaiing en toerisme ontwikkel.
Vir meer inligting oor Saterdag se plantdag kan Marita Serfontein by 084 701 4566 gekontak word.
Volg Mal’va De Rust se Facebook-blad om op hoogte van die projek en komende plantaksies te bly.
