Vir meer as ’n eeu kronkel die Swartbergpas reeds deur die ruwe Swartberge tussen Oudtshoorn en Prins Albert – ’n roete wat vandag nog grootliks lyk soos toe Thomas Bain dit in die 19de eeu laat bou het.
Met sy skerp draaie en indrukwekkende klipmure word die pas as een van Bain se grootste ingenieursprestasies beskou. Dit was ook die laaste van 17 passe wat hy in die Kaap gebou het.
Die behoefte aan ’n nuwe roete oor die Swartberge het reeds in die 1870’s al hoe dringender geword. Destyds was Meiringspoort en Seweweekspoort die belangrikste verbindings tussen Mosselbaai en die dorpe van die Groot Karoo, maar vloede en rotsstortings het dié roetes gereeld onbegaanbaar gemaak.
In 1878 het die afdelingsrade van Prins Albert en Oudtshoorn die Kaapse regering versoek om ’n alternatiewe roete te bou. Bain is die volgende jaar aangestel om ’n nuwe pad oor die Swartberge te beplan.
Dit was geen geringe taak nie. Bain het vier moontlike roetes ondersoek voordat hy uiteindelik ’n geskikte lyn deur die berg kon vind. Die nuwe roete sou boonop sowat 40 km korter wees as die pad deur Meiringspoort.
Met pik en graaf deur die berg
Die eerste bouwerk het aan die Prins Albert-kant begin, maar nadat die oorspronklike kontrakteur insolvent verklaar is, het die werk vir ongeveer ’n jaar tot stilstand gekom.
Bain het in November 1883 self die bouwerk oorgeneem. Tussen 200 en 240 gevangenes is gebruik om die enorme taak aan te pak.
Daar was geen moderne grondverskuiwingsmasjinerie nie. Die werk is met onder meer pikke, grawe, voorhamers, koevoete en kruiwaens gedoen. Buskruit is ook gebruik. Groot rotse is met vuur verhit en daarna met koue water afgekoel om dit te laat kraak.
Die kleiner stukke is verder met voorhamers opgebreek en deur die gevangenes gevorm. Die droëklipmure wat die pad teen die steil berghange ondersteun, is op dieselfde manier met die hand gebou – en baie daarvan staan vandag steeds.
Die bouwerk het egter talle uitdagings ingehou. Winterweer het die bouwerk bemoeilik en tydens een sneeustorm is ’n groep gevangenes dood toe die dak van hul hut ineengestort het. In Mei 1885 het swaar reën en modderstortings die kamp byna vernietig en ook groot skade aan die amper voltooide pad aangerig.
Van Rainier’s Pass tot Swartbergpas
Interessant genoeg het die pas nie van die begin af sy huidige naam gehad nie.
Tydens die bouwerk is dit aanvanklik Rainier’s Pass genoem, na landdros George Rainier. Later is Luttig’s Pass voorgestel ter erkenning van J.R.G. Luttig se rol in die bevordering van die projek.
Name soos Victoria Pass en Jubilee Pass is ook oorweeg, voordat die dorpsrade van Oudtshoorn en Prins Albert uiteindelik op Zwartberg Pass besluit het.
’n Groot dag in 1888
Op 10 Januarie 1888 is die Swartbergpas amptelik geopen. Die geleentheid was groot genoeg dat winkels en kantore in Prins Albert gesluit het sodat inwoners aan die feestelikhede kon deelneem.
Drie verwelkomingsboë is oor die dorp se hoofstraat opgerig en om 07:00 het ’n indrukwekkende optog vanaf Haak’s Hotel vertrek. Dit het uit ongeveer 100 voertuie, spinnekopkarre (ligte perdekarre), kapkarre en muilwaens, asook 50 mans te perd bestaan.
Dit het die optog sowat drie uur geneem om die oop terrein naby die kruin te bereik, waar die hoofkamp tydens die bouwerk geleë was. Na raming het sowat 500 mense die geleentheid bygewoon.
Kol. F.X. Schermbrucker, destydse kommissaris van Kroonlande en Openbare Werke, het die pas amptelik geopen. Gertrude Schermbrucker het daarna ’n bottel sjampanje teen ’n rots by die kruin gebreek, waarna ’n saluut van 21 kanonskote die verrigtinge afgesluit het.
Die kruin is volgens die destydse bron as 5 600 voet, ongeveer 1 585 m, bo seespieël aangedui.

Om oor die berg te reis
Ná die opening het die pas ’n nuwe verbinding tussen Oudtshoorn en Prins Albert geskep.
Jan Haak, eienaar van ’n hotel in Prins Albert, het ’n passasierskoetsdiens geadverteer. Die koets is deur ses muile getrek en het passasiers en pos tussen Oudtshoorn en Prins Albert vervoer.
Wanneer die koets oor die pas beweeg het, het die drywer by Dröewaterval stilgehou en sy horing geblaas om ander verkeer te waarsku. Wanneer hy Prins Albert binnegegaan het, is die horing weer geblaas.
Selfs ’n tolgeld moes betaal word. In Mei 1888 is ’n tol op die kruin ingestel. Vier pennies is vir elke wiel gehef, terwyl ’n pennie per dier betaalbaar was. Die tolbeampte moes nie net die geld invorder nie, maar ook help om die pad in ’n goeie toestand te hou.
Toe die motor sy verskyning maak
Die koms van motors het ’n nuwe hoofstuk in die pas se geskiedenis ingelui.
Volgens Marincowitz was dr. G. Russel in 1904 die eerste persoon van Oudtshoorn wat ’n motor besit het – en ook die eerste motoris wat met ’n motor oor die Swartbergpas gery het.
Maar die vroeë motoriste moes soms kreatief wees.
Een verhaal vertel van ’n Dodge wat by Dröewaterval sonder brandstof gaan staan het. Die bestuurder het glo ’n houer witblits by hom gehad, dit in die brandstoftenk gegooi en die motor weer aan die gang gekry om die steil klim voort te sit.
Volgens die verhaal het plaaslike inwoners om die motor se uitlaatpyp saamgedrom toe dit uiteindelik stilhou – bloot om die dampe te ruik.
Daar is ook stories van vroeë fietsryers wat takke aan die agterkant van hul fietse vasgemaak het om as remme teen die steil afdraandes te dien. In 1893 het George Boulton en Gabriel van der Westhuizen glo met fietse van Prins Albert na Oudtshoorn en terug oor die pas gejaag – binne 12 uur.
Elke draai het ’n naam
Vir reisigers is plekname soos Eerstewater, Tweedewater, Malvadraai, Skelmdraai, Boegoekloof, Die Top en Neville se Draai vandag deel van die karakter van die pas.
Maar talle van dié name vertel hul eie stories.
Eerstewater het byvoorbeeld sy naam gekry omdat trekdiere wat noordwaarts beweeg het daar uitgespan, gevoer en water gekry het voordat die lang reis suidwaarts aangepak is. Bain se eerste gevangenekamp was ook daar.
Boegoekloof was bekend vir verskillende soorte boegoe wat daar gegroei het, terwyl die Witdraaie hul naam gekry het van twee haarnaalddraaie wat deur kalksteen sny en die pad ’n witterige voorkoms gee.
Neville se Draai dra ’n meer tragiese geskiedenis. John Fitz Neville, klerk van werke tydens die bou van die pas, is op 8 Maart 1888 op 42-jarige ouderdom by dié draai in ’n ongeluk dood.
Bain se nalatenskap
Toe die Swartbergpas se eeufees in Februarie 1988 gevier is, het die gemeenskap weer die mense vereer wat ’n eeu tevore dié merkwaardige roete deur die berg gebou het.
’n Gedenkplaat is onthul en Thomas Bain en die mense wat jare lank met primitiewe gereedskap aan die ongeveer 24 km lange pas gewerk het, is tydens die vieringe gehuldig.
Meer as ’n eeu ná sy opening bly die Swartbergpas ’n tasbare herinnering aan ’n merkwaardige stuk Klein Karoo-geskiedenis – ’n pad wat met handearbeid deur ’n berg gebou is en waarvan die draaie, klipmure en plekname steeds die stories van sy verlede bewaar. (MALISSA SPIES)
Bron: Helena Marincowitz, Swartberg Pass: Masterpiece of a Brilliant Road Engineer (1989).
Lees ook:
Herstelwerk skryf nuwe hoofstuk in Meiringspoort se geskiedenis
Be the first to comment on "Swartbergpas: Waar geskiedenis ’n draai maak"