Dr. Clifford van Wyk (61) laat groot leemte agter in die Klein Karoo

Foto verskaf.

Die skielike afsterwe van die bekende Oudtshoornse psigiater, dr. Clifford van Wyk (61), het groot hartseer onder sy familie, vriende, kollegas, pasiënte en die breër Klein Karoo-gemeenskap veroorsaak.

Van Wyk is Saterdag, 19 September, oorlede nadat hy tydens ’n mediese kongres buite Oudtshoorn ’n hartaanval gehad het. Medici wat die kongres bygewoon het, het hom te hulp gesnel en hy is na Mediclinic Klein Karoo geneem.

Hoewel hy as ’n uitmuntende psigiater bekend en gerespekteer was, is dit veral sy menslikheid, vriendelikheid en opregte belangstelling in ander wat telkens genoem word in huldeblyke wat sedert sy dood gedeel is.

“’n Mens-mens in die ware sin van die woord”

Dr. Wessel Vermeulen, wie se praktyk in dieselfde gebou as Van Wyk s’n by Mediclinic Klein Karoo was, beskryf hom as veel meer as net ’n voortreflike mediese spesialis.

“Clifford was eerstens ’n baie goeie mens — warm, vriendelik, toeganklik en opreg besorg oor ander.”

Volgens Vermeulen was Van Wyk ’n ware “mens-mens” wie se pasiënte hom vertrou en liefgehad het en wat deur sy kollegas gerespekteer en waardeer is.

“Hy was een van die vriendelikste en mees hulpvaardige kollegas met wie ’n mens kon saamwerk. Hy was altyd bereid om ’n hand uit te steek, altyd bereid om te luister en te help — en, so ken ek hom, sonder om ooit te kla of iets daarvoor terug te verwag.”

Vermeulen sê Van Wyk het ’n besondere vermoë gehad om mense gemaklik te laat voel.

“Sy vriendelikheid was nie iets wat hy aangebied het nie; dit was eenvoudig wie hy was.”

Hy beskryf Van Wyk se heengaan as ’n geweldige verlies vir Oudtshoorn en die hele Klein Karoo.

“Vir sy pasiënte, kollegas, vriende en almal wat die voorreg gehad het om hom te ken, laat hy ’n leemte wat nie maklik gevul sal word nie.

“Rus sag, Clifford. Jou lewe was ’n seën vir soveel mense — en jou nalatenskap lê in die talle lewens wat jy aangeraak en beter gemaak het.”

Pasiënte bring hulde
Ook onder Van Wyk se huidige en voormalige pasiënte het sy dood diep geraak.
Sherrilyn Lloyd het in ’n aangrypende huldeblyk, “Hulde aan jou, Dok!”, geskryf oor wat Van Wyk vir sy pasiënte en sy kinders beteken het.

Sy beskryf hom as “’n psigiater van formaat” wat baie van homself gegee en opgeoffer het, en wat eerlik en opreg, maar altyd met empatie met mense kon praat.

Lloyd skryf dat talle Oudtshoorniete nooit sal vergeet wat hy vir hulle beteken het nie en sluit haar huldeblyk af met die gedagte dat Van Wyk sy “wedloop voleindig” het.

Die reaksie op haar huldeblyk het verder gewys hoe wyd Van Wyk se invloed in die gemeenskap gestrek het. Jenay Witbooi het hom as “regtig ’n goeie mens” beskryf en onthou hoe hy selfs by Volmoed betrokke was en pryse tydens ’n diplomaplegtigheid aan kinders oorhandig het.

Paulina Andries het haar medelye met die Van Wyk-familie en sy kinders uitgespreek en gesê dat Van Wyk besonder spesiaal vir die mense van Volmoed en vir sy pasiënte was.

Ook buite sy spreekkamer betrokke: Van Wyk se betrokkenheid by die gemeenskap het nie by sy werk as psigiater geëindig nie.
Die Hoorn het in April 2024 berig oor die opgradering van badkamergeriewe by die Eljada-Kairos Skool, wat met steun van die Outeniqua-tak van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) moontlik gemaak is. Van Wyk was destyds ’n takraadslid van SAMA en was saam met dr. Wessel Vermeulen by die projek betrokke.

Die verbeterde fasiliteite het dit veral vir kinders in rolstoele makliker gemaak om die skool se badkamers en storte te gebruik. Van Wyk het hom ook oor sake in sy gemeenskap uitgespreek. In 2018 het ’n brief van hom oor gelykheid en skoolbeheerliggame in

Die Hoorn tot verdere gesprek onder lesers gelei.

Oudtshoorn was sy tuiste: Sy heengaan laat ’n leemte in veel meer as net die mediese gemeenskap. Uit die boodskappe van kollegas, pasiënte en inwoners is dit duidelik dat hy onthou sal word as ’n dokter wat mense behandel het, maar ook as ’n mens wat mense gesien, gehoor en bygestaan het.

Van Wyk was die tweede jongste van nege kinders. Sy familie het in 1968 van Fraserburg na Oudtshoorn verhuis — die dorp wat later ’n groot deel van sy lewe en nalatenskap sou vorm.

Hy was die eerste van die Van Wyk-kinders wat as dokter gekwalifiseer het, ’n prestasie wat uiteindelik sou uitloop op ’n loopbaan waarin hy nie net as medikus nie, maar ook as mens, diep spore in die lewens van ander getrap het.

Hy laat sy vrou, Rochelle, twee kinders, twee kleinkinders, vyf broers en twee susters agter. Vir hulle, en vir almal wat hom geken en liefgehad het, laat sy afsterwe ’n groot leemte.

Die Hoorn betuig sy innige meegevoel met die familie, geliefdes, vriende, kollegas en pasiënte. Die troosdiens het gister, Donderdag, 24 September, by VGK op Oudtshoorn plaasgevind. (ANGELIQUE ERASMUS)

Huldeblyk deur Daniel van Wyk, dr. Clifford van Wyk se broer:
Cliffie, jy was ’n briljante psigiater wat jou talente tot voordeel van ander gebruik het. Jou entoesiasme, liefde vir mense en onbaatsugtige betrokkenheid by die gemeenskap het diep spore gelaat.

Ek onthou jou as ’n skaakkampioen, wêreldreisiger, skrywer en boer wat lief was vir sy diere. Jy kon skilder, kook en byna enigiets self regmaak.

Ek onthou ook hoe ons op pad Mosselbaai toe met net een Jack and the Beanstalk-kasset in die motor die storie só ontleed het dat ons albei geskater het. Ons sou mekaar eerskomende naweek sien. Nou sal dit ’n afspraak van ’n ander aard wees. Oudtshoorn treur saam met ons.

Mag die Here Arjanah en Nicholson behoed en aan hulle vrede gee.
Rus in vrede, Cliffie, tot ons weer ontmoet.

Be the first to comment on "Dr. Clifford van Wyk (61) laat groot leemte agter in die Klein Karoo"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*