Warmer dae bring waarskuwing oor honde in voertuie

Foto verskaf.

Met die warmer maande wat voorlê, word honde-eienaars gemaan om twee keer te dink voordat hulle hul diere in ’n geparkeerde voertuig los, selfs al is dit net vir ’n vinnige draai in die winkel.

Die Hoorn het die afgelope tyd kennis ontvang van gevalle waar honde in voertuie agtergelaat word terwyl hul eienaars inkopies doen.

Hoewel dit op ’n matige dag dalk onskadelik kan lyk, kan die temperatuur binne ’n voertuig baie vinnig styg. Volgens die Cape of Good Hope DBV kan ’n voertuig wat in die son geparkeer is binne minder as 15 minute temperature van meer as 50 °C bereik.

Om die vensters effens oop te los of die voertuig in die skadu te parkeer, bied ook nie voldoende beskerming teen die hitte nie.

Honde kan nie op dieselfde manier as mense afkoel nie en maak hoofsaaklik op hyg staat om hul liggaamstemperatuur te reguleer. Wanneer die temperatuur rondom hulle te hoog raak, kan hitte-uitputting en hittesteek vinnig ontwikkel.

Volgens Blue Cross-veearts Caroline Reay behoort honde nie alleen in ’n voertuig gelaat te word nie, veral nie gedurende warmer weer nie. Sy waarsku dat honde binne minute ernstige hittesteek kan ontwikkel en dat oop vensters min doen om die gevaar te verminder.

Tekens waarna opgelet moet word, sluit onder meer oormatige hyg, kwyl, vinnige asemhaling, swakheid en lusteloosheid in. In ernstige gevalle kan ’n hond verward raak, ineenstort of stuiptrekkings kry.

Indien ’n hond reeds tekens van oorverhitting toon, beveel Reay aan dat die dier na ’n koeler plek geneem en met koel, maar nie yskoue, water afgekoel word. ’n Veearts moet so gou moontlik gekontak word.

Die veiligste opsie bly egter om ’n hond tuis te laat wanneer inkopies of ander draaie gedoen moet word.

Indien dit werklik noodsaaklik is dat die hond saamry, behoort daar verkieslik iemand by die dier te bly waar voldoende verkoeling beskikbaar is. Vars water moet ook beskikbaar wees. ’n Oop venster alleen moet nie as genoegsame verkoeling beskou word nie.

Die Wet op Dierebeskerming bepaal onder meer dat ’n dier nie onder omstandighede aangehou mag word waar onvoldoende ventilasie of beskerming teen hitte onnodige lyding veroorsaak nie.

As ’n hond in ’n voertuig gesien word en duidelike tekens van hitte-nood toon, kan omstanders die bestuurder probeer opspoor, byvoorbeeld deur die bestuur van ’n winkel of sentrum te nader.

Met temperature wat weer begin styg, bly die eenvoudigste raad egter ook die veiligste: as jou hond nie saam met jou uit die motor kan klim nie, los jou troeteldier eerder veilig by die huis.

Lees ook:

Katjies stroom in – Lee-Ann het gemeenskap se hulp nodig

Diere-uitreikprojek lei tot redding van kind in nood

Be the first to comment on "Warmer dae bring waarskuwing oor honde in voertuie"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*