Katjies stroom in – Lee-Ann het gemeenskap se hulp nodig

Foto verskaf

Lee-Ann van Sittert het ’n dringende beroep op die Oudtshoorn-gemeenskap gedoen terwyl die jaarlikse katte-seisoen skaars begin het en klein katjies reeds in groot getalle by haar aankom.

Van Sittert, wat al jare lank ’n bekende gesig in plaaslike dierewelsyn is, ontferm haar veral oor katte. Sy sê die koste om die toenemende aantal katjies te versorg, raak eenvoudig te veel om alleen te dra. Melk vir klein katjies wat nog nie self kan eet nie, katte mousse, katjiekos en katgruis is van die grootste behoeftes.

“Die katjies hou net aan kom. Ons vra nie normaalweg vir hulp nie, maar ongelukkig het ons nou geen ander keuse nie,” sê sy.
Die Hoorn het reeds in 2018 oor Van Sittert se werk berig en haar destyds beskryf as iemand wat nie sommer vir ’n kat in nood nee sê nie – ongeag of dit ’n klein katjie, ’n beseerde dier of ’n kat met spesiale behoeftes is.

Haar betrokkenheid by dierewelsyn strek veel verder as die versorging van katjies wat by haar beland. The Cat Hotel was ook vanjaar betrokke by ’n grootskaalse sterilisasieveldtog in die groter Oudtshoorn in samewerking met verskeie ander organisasies. Tydens dié veldtog in Julie vanjaar, is 215 honde en katte binne drie dae gesteriliseer.

Sterilisasie is juis een van die belangrikste maniere waarop die voortdurende siklus van ongewenste werpsels beperk kan word, maar totdat dié probleem onder beheer is, beland talle katjies steeds by mense soos Van Sittert wat hulle voer, versorg en geskikte huise en families kry.

Met die begin van die huidige katjieseisoen is die onmiddellike behoefte egter eenvoudig: kos, melk en katgruis – en geld om dit aan te koop.

Inwoners wat kan help, hoef nie noodwendig ’n groot finansiële bydrae te maak nie. ’n Blik of sakkie katjiekos, melk vir katjies, mousse of katgruis kan reeds help om die druk te verlig. Finansiële bydraes om dié benodigdhede aan te koop, is ewe welkom.

Vir Van Sittert beteken elke skenking dat nog ’n klein katjie gevoer en versorg kan word.

Die gemeenskap word gevra om haar in hierdie besonder besige tyd by te staan.

Enigiemand wat kos, katgruis of ’n finansiële bydrae wil skenk, kan Lee-Ann van Sittert by 083 334 0172 kontak. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Katjies stroom in – Lee-Ann het gemeenskap se hulp nodig"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*