Oorlog in Midde-Ooste stoot SA brandstofpryse verder op

AI foto.

Die oorlog in die Midde-Ooste plaas toenemende druk op die wêreld se olievoorraad en kan Suid-Afrikaanse motoriste in Oktober duur te staan kom.

Voorlopige berekeninge van die Sentrale Energiefonds wys dat 95-oktaanpetrol met tot R2,41 per liter kan styg. Diesel kan tussen R2,04 en R2,40 per liter duurder word.

Indien die situasie nie verbeter nie, kan 95-oktaanpetrol na raming sowat R28,30 per liter aan die kus en R29,32 in Gauteng kos. Die groothandelprys van 50 dpm-diesel kan tot minstens R31,94 per liter styg. Die finale dieselprys kan egter hoër wees omdat dit nie soos petrol se verkoopprys gereguleer word nie.

Suid-Afrika voer die grootste deel van sy olie en brandstof in. Plaaslike pryse word daarom sterk beïnvloed deur die internasionale olieprys en die waarde van die rand teenoor die Amerikaanse dollar.

Brent-ruolie het vandeesweek tot meer as $108 per vat gestyg ná aanvalle en toenemende spanning rondom belangrike olie-aanlegte en skeepsroetes in die Midde-Ooste. Kommer oor die Straat van Hormuz, een van die wêreld se belangrikste olievervoerroetes, dryf pryse verder op.

Hoër brandstofpryse kan ook sportgeleenthede in die Klein Karoo raak. Dit word duurder om perde, fietse, spanne, toerusting en ondersteuningsvoertuie te vervoer. Organiseerders betaal ook meer om roetes te merk, noodvoertuie, kragopwekkers en personeel.

Dit kan tot minder inskrywings, hoër deelnamefooie en verliese vir plaaslike ondernemings lei.

Die verwagte verhoging kom ná ’n moeilike jaar waarin vloede, padsluitings en bek-en-klouseer reeds groot druk op boere en ondernemings geplaas het.

Besighede se uitgawes styg, terwyl verbruikers minder geld het om te bestee.

Dit sal die tweede groot brandstofverhoging in twee maande wees. Petrol het op 2 September reeds met R1,34 per liter gestyg, terwyl diesel tussen R2,94 en R3,15 duurder geword het.

’n Verhoging van R2,41 per liter sal dit R144,60 duurder maak om ’n 60 liter-petroltenk vol te maak. ’n Dieselstyging van R2,40 sal R168 by die koste van ’n 70 liter-tenk voeg.

Die Oktoberpryse is nog nie finaal nie. Die amptelike aanpassing sal eers aan die einde van September aangekondig word. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Oorlog in Midde-Ooste stoot SA brandstofpryse verder op"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*