Erfenisdag vier verskille en dit wat ons bind

Foto: iStock

Erfenisdag, wat jaarliks op 24 September gevier word, is ’n dag waarop Suid-Afrikaners hul uiteenlopende kulture, tradisies en geskiedenis vier. Erfenisdag het sy oorsprong in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie.

Ná 1994 is 24 September as ’n openbare vakansiedag ingestel om erkenning te gee aan die land se uiteenlopende kulturele erfenis en om Suid-Afrikaners aan te moedig om hul eie tradisies en die van ander gemeenskappe te waardeer.

Die datum het ook ’n besondere geskiedenis in KwaZulu-Natal, waar 24 September voorheen as Shaka-dag herdenk is ter ere van koning Shaka Zulu. Toe die dag aanvanklik nie op die nuwe lys van openbare vakansiedae ingesluit is nie, het besware gevolg en is ’n kompromie bereik waarvolgens 24 September as Erfenisdag erken is.

Vandag het die dag ’n veel breër betekenis en bied dit Suid-Afrikaners die geleentheid om die land se verskillende tale, gebruike, kossoorte, musiek, geskiedenis en familietradisies te vier.

Die dag het oor die jare egter ook ’n meer informele naam gekry: Braaidag. Hoewel Suid-Afrikaners op baie maniere van mekaar verskil, is braai een tradisie wat oor kultuur-, taal- en gemeenskapsgrense bekend is. Rondom ’n braaivuur raak baie van dié verskille vir ’n ruk minder belangrik. Dit is juis wat Erfenisdag besonders maak.

Die dag vier dit wat mense en gemeenskappe uniek maak, maar herinner terselfdertyd ook aan die dinge wat Suid-Afrikaners met mekaar deel. Erfenis leef immers nie net in monumente, museums of geskiedenisboeke voort nie. Dit word ook van geslag tot geslag oorgedra deur taal, kos, stories, musiek en familietradisies.

Vir baie Suid-Afrikaners is braai deel van daardie erfenis. Wanneer die vure dus op 24 September aangesteek word, gaan dit oor meer as net wat op die rooster beland. Dit is ook ’n geleentheid om saam te kuier, stories te deel en die uiteenlopende erfenis van Suid-Afrika te vier.

Ten spyte van alles waaroor Suid-Afrikaners kan verskil, is daar steeds iets besonders aan hoe maklik ’n braaivuur mense bymekaar kan bring. (MALISSA SPIES)