Ondersoek ná 33 kinders by Oudtshoorn-hospitaal behandel is

’n Ondersoek is aan die gang nadat 33 kinders Sondag, 13 September, by Oudtshoorn-hospitaal se noodeenheid met vermoedelike simptome van voedselvergiftiging behandel is.

Vyf van die kinders is vir verdere sorg in die hospitaal opgeneem en vir dehidrasie behandel.

Nadia Ferreira, hoofkommunikasiebeampte vir die Tuinroete- en Sentraal-Karoo-distrikte van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, het die syfers aan Die Hoorn bevestig.

“Die departement kan bevestig dat 33 kinders op Sondag by Oudtshoorn-hospitaal se noodeenheid gesien is met vermoedelike simptome van voedselvergiftiging,” het Ferreira gesê.

Volgens haar is vyf kinders vir verdere behandeling opgeneem en het dit goed met hulle gegaan terwyl hulle vir dehidrasie behandel is.

Sy het verduidelik dat vermoedelike voedselverwante siektes aanmeldbare toestande is en dat die voorval ondersoek sal word.

Berigte en plasings op sosiale media het die voorval verbind met kos wat na bewering tydens ’n sportbyeenkoms in Bridgton aan kinders uitgedeel is. Die ondersoek moet onder meer bepaal of daar wel ’n verband tussen die kos en die kinders se siekte was.

Die persoon wat by die reëlings rondom die kos betrokke was, het intussen met Die Hoorn gesels en sy weergawe van die gebeure gegee.

Gaywin van Rooyen, wat homself as ’n BOSA-kandidaat vir die komende plaaslike verkiesing beskryf, sê die geleentheid het deel gevorm van sy betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap.

Volgens Van Rooyen is die kos informeel vir die geleentheid voorberei en nie as deel van ’n formele voedselbesigheid nie.

Hy sê die bestanddele is op 11 September by ’n plaaslike voedselmark in Oudtshoorn gekoop.

Die kos is volgens hom Saterdag, 12 September, omstreeks 08:00 by sy woning voorberei en omstreeks 10:00 bedien.

Plaaslike vrywilligers wat by die geleentheid betrokke was, het met die voorbereiding gehelp.

Van Rooyen verduidelik dat die bestanddele verkoel gehou is voordat die kos voorberei is.

Hy het gesê daar was ten tyde van die aankoop en voorbereiding geen rede om te vermoed dat daar fout met die bestanddele was nie.

“Daar was later kommer oor die vleis wat gebruik is, veral met betrekking tot die datum wat op die produk verskyn het,” het hy gesê.

Die Hoorn het ook bewerings ontvang dat die hoender wat in die gereg gebruik is, moontlik reeds einde Augustus verval het.

“Ek wil egter nie sê dat die vleis die oorsaak van die kinders, myself, my vrou, ons kinders of enige ander persoon se siekte was nie. Die presiese oorsaak moet deur die toepaslike ondersoek vasgestel word.”

Volgens hom het een vrywilliger ook mediese behandeling ontvang. Hy sê al die kinders en die betrokke vrywilliger wat behandeling ontvang het, is intussen ontslaan en sterk tuis aan.

Van Rooyen het gesê hy is bereid om ten volle met die gesondheidsowerhede saam te werk en beskikbare verpakking, aankoopbewyse of ander relevante inligting beskikbaar te stel indien dit vir die ondersoek benodig word.

Hy het gesê hy sal met die relevante owerhede saamwerk sodat die feite vasgestel kan word.

“Ons verstaan dat daar baie vrae in die gemeenskap is. Ek wil egter nie op grond van aannames ’n oorsaak aan die voorval toeskryf nie,” het hy gesê.

Candice Biscombe, mediawoordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het aan Die Hoorn gesê die departement van gesondheid neem die leiding met die aangeleentheid en dat die munisipaliteit volle ondersteuning aan die departement bied.

“Ons simpatiseer met die betrokke families en wil die publiek verseker dat die departement van gesondheid die munisipaliteit se volle ondersteuning in hierdie verband het,” het sy gesê.

Volgens Biscombe sal die munisipaliteit ook enige relevante inligting beskikbaar stel namate die ondersoek vorder.

Die voorval plaas ook opnuut die fokus op die vereistes vir openbare geleenthede en veilige voedselhantering.

Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit moet spesiale geleenthede vooraf verklaar en formeel goedgekeur word. Die munisipaliteit se prosedures bepaal dat aansoeke vir byeenkomste minstens ’n maand vooraf by Rampbestuursdienste en die SAPD ingedien moet word, waarna verskeie veiligheids- en wetlike vereistes nagekom moet word voordat goedkeuring verleen word.

Wanneer kos by ’n geleentheid voorberei of aan die publiek verskaf word, geld verdere gesondheidsvereistes. Voedselpersele en -stalletjies moet aan die bepalings van Regulasie R638 voldoen en oor ’n geldige Sertifikaat van Aanvaarbaarheid beskik.

Desmond Paulse, bestuurder van munisipale gesondheid vir die Klein Karoo, het vroeër vanjaar verduidelik dat omgewingsgesondheidsbeamptes deur inspeksies, voorligting en gesprekke met voedselverskaffers goeie higiëne, veilige voedselhantering en gereelde skoonmaak bevorder.

Hy het ook gesê skoon en higiëniese voedselpersele speel ’n belangrike rol om besmetting te voorkom en verbruikers teen voedselgedraagde siektes te beskerm.

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het inwoners ook aangemoedig om enige voedsel wat moontlik onveilig vir menslike gebruik is, by munisipale gesondheidsdienste aan te meld. Bykomende inspeksies kan gedoen word wanneer klagtes ontvang word, onveilige voedsel vermoed word of ’n moontlike voedselverwante siekte aangemeld word.

Vir die Klein Karoo is Paulse die kontakpersoon vir munisipale gesondheid. Hy kan by 044 272 2241 of 083 678 6530 gekontak word.

Dit is nog nie bevestig of die betrokke sportbyeenkoms deur die voorgeskrewe munisipale goedkeuringsproses gegaan het, of watter reëlings vir die voorbereiding en verspreiding van die kos getref is nie.

Ou foto’s waarop lede van ’n politieke party by ’n ander geleentheid kos uitdeel, is ook in verband met die voorval gedeel, wat verdere bespiegeling aangevuur het.

Die DA Oudtshoorn het in ’n mediaverklaring ontken dat die party, enige van sy raadslede, kandidate of aktiviste kos aan kinders by die betrokke byeenkoms uitgedeel het.

Johan Allers, leier van die VF Plus in Oudtshoorn, het eweneens ’n beroep op inwoners en politieke rolspelers gedoen om nie gevolgtrekkings te maak voordat die feite vasgestel is nie.

Verskeie politieke partye en raadslede het ná die voorval ook hul medelye en ondersteuning aan die betrokke families uitgespreek en die kinders ’n spoedige herstel toegewens.

Van Rooyen sê BOSA-leier Mmusi Maimane sal Saterdag 19 September in Oudtshoorn wees en van die betrokke kinders en hul families besoek.

Terwyl die ondersoek voortduur, bly die presiese oorsaak van die kinders se siekte nog onbekend. Die uitkoms van die ondersoek sal moet bepaal wat gebeur het en of die kos wat by die byeenkoms uitgedeel is, met die voorval verbind kan word. (MALISSA SPIES)

Lees ook:

Stern warning to all organisers of events and gatherings

Be the first to comment on "Ondersoek ná 33 kinders by Oudtshoorn-hospitaal behandel is"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*