Byron Minnie en Ryno Velvet hou die kuier aan die gang met “Nommerpas”

Byron Minnie (regs) en Ryno Velvet het kragte saamgesnoer vir hul nuwe enkelsnit, “Nommerpas”, wat op 4 September vrygestel is. Foto: Julius Bekker

’n Vriendskap wat by die KKNK begin het, het byna twee dekades later tot ’n splinternuwe lied gelei toe oud-Oudtshoorniet Byron Minnie en Ryno Velvet kragte saamgesnoer het vir “Nommerpas”.

Minnie en Velvet het mekaar reeds in 2008 tydens die KKNK ontmoet en is sedertdien vriende. Minnie vertel hy het lank reeds gehoop dat die twee eendag saam musiek sou maak.

“Ek kyk op na Ryno en is mal oor sy musiek. Ek het nog altyd gewonder of ons nie tog ’n liedjie saam moet doen nie.”

Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties, by wie albei kunstenaars opneem, het later ook voorgestel dat hulle kragte saamsnoer. Velvet het oorspronklik met die idee vir “Nommerpas” vorendag gekom en volgens Minnie die grootste deel van die lied geskryf.

“Ek wou nie in vandag se lewe KI-musiek maak nie. Ek hou van daardie nostalgiese liedjies met rou klanke, en ‘Nommerpas’ is juis dit. Dit is net ’n lekker partytjieliedjie,” sê Minnie.

Juis daardie ongekompliseerde lekkerkuier-gevoel is volgens hom deel van wat mense so sterk na die lied trek.

Die opnameproses het vir Minnie vroeg reeds ’n aanduiding gegee dat hulle iets raakgeslaan het. “In die studio het ’n mens tog so ’n gevoel gekry,” vertel hy oor die oomblik toe hulle besef het die lied werk.

“Nommerpas” verskil ook van baie van sy vorige werk. Waar sy musiek voorheen meer na pop geneig het, bring die nuwe enkelsnit ouer rock ’n roll-klanke sterker na vore.

Minnie steek ook nie weg hoe hy oor die eindproduk voel nie. Hy beskryf dit as “een van my beste liedjies”.

Sedert “Nommerpas” op 4 September vrygestel is, het die belangstelling rondom die lied Minnie behoorlik verras. “Die reaksie op ‘Nommerpas’ het my verwagtinge heeltemal oortref. Ek is behoorlik besig met onderhoude oor die lied en die same-werking met Ryno,” vertel hy.

Vir hom bewys dit weer dat ’n lied nie ingewikkeld hoef te wees om by mense aanklank te vind nie. Soms wil mense eenvoudig iets hê waarmee hulle lekker kan saamkuier.

Die musiekvideo vir “Nommerpas” is by Die Naguil in die Paarl verfilm. In die video saam met Minnie en Velvet is Fred den Hartog op kitaar, Rufio Vegas op baskitaar en Middelvinger op dromme.

Minnie, wat in Oudtshoorn gebore en getoë is en deesdae in George woon, het sy loopbaan met ’n agtergrond in klankingenieurswese begin voordat hy self as uitvoerende kunstenaar deurgebreek het.

Sy debuutalbum, B-Minor, is in 2018 uitgereik, waarna verskeie oorspronklike enkelsnitte en samewerkings gevolg het.

Onder sy vorige vrystellings tel “Hou My Dop Vas” saam met die 1925 Band, “Mooi” saam met Fred den Hartog, “Beter As Een”, “Donker Dae” saam met Michael Lindt, “Styf Vas” en “Tienduisend Keer”.

Musiek is egter nie Minnie se enigste projek nie. Hy staan ook agter die Bliksems Lekker-produkte, wat onder meer ’n lager, Cherry Ale, olywe en ’n brandrissiesous insluit.

Hoewel hy nou in George woon, bly Oudtshoorn vir hom ’n spesiale plek. Minnie is ’n alumnus van Hoërskool Oudtshoorn en keer graag terug dorp toe wanneer hy tyd af kry.

“Maak nie saak waar ek myself vind nie, bly my hart in Oudtshoorn. Ek sal altyd ’n trotse Oudtshoorniet bly.”

Plaaslike ondersteuners kry juis hierdie week weer ’n geleentheid om hom nader aan die huis te sien.

Minnie sal Vrydag, 18 September, ook betrokke wees by Oudtshoorn Vaardigheidskool, in same-werking met Die Hoorn, Jakhals Events en Castle Lite, se maskerbal. Kitaarspeler Jerry Spangenberg sal vir die aand saam met hom optree.

Die maskerbal is ’n fondsinsameling ten bate van die Oudtshoorn Vaardigheidskool en bied inwoners terselfdertyd die kans om vir ’n aand behoorlik op te tof. Gaste kan hul formele uitrustings en maskers nader trek vir ’n aand van musiek, dans en lekker kuier, terwyl daar ook aan ’n driegangete gesmul word.

Vir Minnie beteken die maskerbal ook ’n terugkeer na sy tuisdorp, kort nadat “Nommerpas” vrygestel is. En “Nommerpas” lyk nie of dit Minnie en Velvet se laaste saamkuier in die ateljee gaan wees nie. Minnie sê hulle wil nog voor die einde van die jaar nog ’n lied saam vrystel.

Hy wil dié idee ook verder neem deur meer van sy vriende by toekomstige musiek te betrek.

“Ek wil graag nog van my vriende betrek en saam liedjies uitbring.”

Daarna wag nog nuwe musiek, met Minnie en Cordelia wat ’n gesamentlike vrystelling vir Februarie 2027 beplan. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Byron Minnie en Ryno Velvet hou die kuier aan die gang met “Nommerpas”"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*