APD nooi gemeenskap om betrokke te raak

APD Oudtshoorn nooi inwoners uit om op Maandag, 28 September, hul Algemene Jaarvergadering by te woon en meer te hoor oor die organisasie se werk in die gemeenskap.

Die vergadering begin om 14:00 by die APD-perseel, 26ste Laan 441, Bongolethu.

Volgens Sarina Coericuis, gemeenskapsontwikkelingswerker by APD Oudtshoorn, kom sy dikwels agter dat mense nie werklik weet wie die Assosiasie vir Persone met Gestremdhede is of watter rol die organisasie in die gemeenskap speel nie. Sy sê openbare betrokkenheid is belangrik omdat APD nie net persone met gestremdhede wil ondersteun nie, maar ook wil help bou aan ’n gemeenskap waar hulle volledig ingesluit word.

Deur groter bewustheid kan wanpersepsies en stigma verminder word, terwyl persone met gestremdhede beter toegang tot geleenthede in onder meer werk, onderwys en sosiale aktiwiteite kan kry.

“APD Oudtshoorn se doel is om nie net vir persone met gestremdhede te werk nie, maar om die hele gemeenskap deel te maak van ’n beweging wat respek, gelykheid en inklusiwiteit bevorder,” sê Coericuis.

Gemeenskapslede kan op verskillende maniere betrokke raak, onder meer deur vrywilligerswerk, ondersteuning en die deel van vaardighede. APD bied ook jaarlikse lidmaatskap teen R10 aan.

Die jaarvergadering bied aan inwoners die geleentheid om meer te leer oor APD Oudtshoorn se werk en die rol wat die organisasie in die bevordering van inklusiwiteit speel.

Belangstellendes word gevra om teen 21 September hul bywoning by Rashieda Booysen by 044 272 2106 te bevestig.

Be the first to comment on "APD nooi gemeenskap om betrokke te raak"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*