Toerismemaand plaas kollig op unieke trekpleisters

Die Kango-grotte, Oudtshoorn. Foto: Oudtshoorn Toerisme

September is Toerisme-maand, maar in ’n dorp soos Oudtshoorn is toerisme veel meer as net besoekers wat kom en gaan. Van die wêreldbekende Kango-grotte en die dorp se volstruiserfenis tot die Swartberg, plaaslike feeste en die oop Klein Karoo-landskap vorm toerisme ’n belangrike deel van die plaaslike ekonomie en Oudtshoorn se identiteit.

Vanjaar word Toerisme-maand landwyd gevier onder die tema Growing South Africa’s Tourism Sector in the Digital Era, met die fokus op hoe tegnologie verander waar mense hul volgende bestemming ontdek en hoe toerisme-ondernemings hulself aan ’n groter mark kan bekend stel.

Toerismemaand sluit ook Wêreldtoerismedag in, wat jaarliks op 27 September gevier word. Die dag is deur UN Tourism ingestel om die belang van toerisme wêreldwyd uit te lig en ook die bedryf se rol in volhoubare ontwikkeling te beklemtoon.

Vanjaar se wêreldtema is Digital Agenda and Artificial Intelligence to Redesign Tourism. Die maand kom op ’n tyd waarin Suid-Afrika se toerismebedryf sterk groei.

Tussen Januarie en Julie vanjaar het Suid-Afrika meer as 6,5 miljoen internasionale toeriste verwelkom, 12,4% meer as in dieselfde tydperk verlede jaar. Julie alleen het byna een miljoen internasionale toeriste gelok.

Binnelandse toerisme bly egter net so belangrik. Suid-Afrikaners het in die eerste ses maande van 2026 sowat 21,2 miljoen oornagreise onderneem, terwyl vakansiereise tot 5,2 miljoen gestyg het. Minister van Toerisme Patricia de Lille het met die bekendstelling van toerismemaand benadruk dat toerisme ook by die huis begin.

Oudtshoorn bied binne ’n klein gebied ’n groot verskeidenheid ervarings. Besoekers kan deur die Kango-grotte beweeg, die streek se bekende volstruisbedryf beleef, oor die Swartbergpas reis, historiese geboue besoek of bloot die unieke Klein Karoo-landskap en dorpe verken.

Die gebied se toerisme-aanbod strek egter verder as die trekpleisters waarmee Oudtshoorn tradisioneel verbind word. Die Wes-Kaapse regering se jongste ekonomiese oorsig vir die Tuinroete-distrik wys onder meer op die potensiaal van sterrekyktoerisme in Oudtshoorn en die Klein Karoo.

Die streek se halfdroë klimaat en relatief lae vlakke van ligbesoedeling maak dit geskik vir dié groeiende vorm van toerisme.

Die waarde van toerisme lê ook nie net in hoe-veel mense ’n bestemming besoek nie, maar in wat dié besoekers plaaslik bestee.

Die KKNK bied ’n goeie voorbeeld hiervan. Volgens navorsing waarna die Wes-Kaapse regering verwys het, het die 2024-KKNK ’n geraamde direkte ekonomiese impak van tussen R72 miljoen en R89 miljoen op Oudtshoorn gehad.

Dié besteding versprei verder deur die plaaslike ekonomie na onder meer verblyfplekke, restaurante, winkels en ander ondernemings.

Wesgro se besoekerstendense vir die Tuinroete en Klein Karoo toon ook dat die streek steeds ’n kombinasie van binnelandse en internasionale reisigers lok.

Volgens die 2025-opname onder besoekers wat deelnemende toerismekantore besoek het, was meer as die helfte van die respondente internasionale besoekers, terwyl die Wes-Kaap die grootste bron van binnelandse besoekers was.

Wesgro benadruk egter dat dié syfers slegs besoekers by deelnemende toerismekantore weerspieël en nie die totale aantal toeriste in die streek verteenwoordig nie. Toerismemaand val ook saam met Erfenismaand, iets wat besonder gepas is vir Oudtshoorn.

Baie van dit wat besoekers na die dorp lok, van sy argitektuur en geskiedenis tot die volstruisbedryf en die Klein Karoo se landskap, is juis deel van die erfenis wat die streek se karakter gevorm het.

In ’n tyd waarin reisigers met ’n paar klikke hul volgende bestemming kan kies, lê Oudtshoorn se voordeel dalk juis daarin dat dit nie net een erva-ring bied nie.

Hier kom natuur, erfenis, avontuur en plaaslike stories op een plek bymekaar, en Toerismemaand bied opnuut ’n geleentheid om te wys waarom die Klein Karoo steeds ’n bestemming op sy eie is. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Toerismemaand plaas kollig op unieke trekpleisters"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*