
Musiekliefhebbers kan uitsien na ’n nuwe toevoeging tot die Klein Karoo se kalender wanneer Hemelruim op Saterdagaand, 10 Oktober, by die Oudtshoorn Sportgronde (REC) aangebied word.
Die konsert word as ’n “woestyn-disko onder die Klein Karoo-sterre” beskryf en bring drie uiteenlopende kunstenaars saam: die gewilde Afrikaanse rockgroep Spoegwolf, die sangeres Tasché en Oudtshoorn se eie Noemwoord.
Die hekke open om 17:00 en die musiek begin om 18:00. Soos die son oor Oudtshoorn sak, sal die sportgronde met ’n uiteenlopende program van Afrikaanse rock en kontemporêre musiek in ’n opelug-konsertarena omskep word.
Spoegwolf, wat vir hul energieke verhoogoptredes en talle Afrikaanse treffers bekend is, sal saam met Tasché se kenmerkende stem en moderne klank optree.
Noemwoord (foto regs) sal plaaslike talent op dié nuwe verhoog verteenwoordig. Die konsert val saam met ’n bedrywige dag in die Klein Karoo.
Deelnemers en ondersteuners sal vroeër die dag na De Rust reis vir die Optimum Meiringspoort-halfmaraton. Hemelruim bied daarna die geleentheid om die dag met musiek, sang en dans af te sluit. “Hardloop in die oggend, kom sing en dans in die aand,” lui die uitnodiging van die organiseerders.
Verversings sal tydens die konsert beskikbaar wees, met kroegfasiliteite en verskeie kosstalletjies op die terrein. Kaartjies is aanlyn deur Computicket beskikbaar en kan ook by Checkers-, Shoprite- en Usave-winkels of die KKNK-kantoor op Oudtshoorn gekoop word.
Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as dié wat op die dag by die hekke beskikbaar sal wees.
Hemelruim word deur die KKNK aangebied. Die volgende KKNK vind van Dinsdag 23 tot Saterdag 27 Maart 2027 op Oudtshoorn plaas.
Vir meer inligting, besoek hemelruim.co.za, stuur ’n e-pos aan sterre@hemelruim.co.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Be the first to comment on "Hemelruim bring woestyn-disko"