Gielie braai homself in die rekordboeke

Gielie Basson met braaitang nommer 100, wat saam met ander memorabilia by Zamani Grill bewaar sal word as herinnering aan sy wêreld- rekordpoging.

Ná twee rekordpogings, ure langs die kole en ’n lang wag vir die amptelike bewys, hang Gielie Basson se Guinness World Records-sertifikaat nou met trots by Zamani Grill in Calitzdorp.

Basson het reeds op 9 Mei vanjaar gehoor dat sy poging suksesvol was en dat hy die nuwe Guinness-wêreld-rekordhouer vir die langste braai-maraton is, maar volgens hom het die prestasie eers werklik ingesink toe hy die sertifikaat op 4 September in sy hande kon hou.

“Hoendervleis, trots, blydskaptrane en trane van waardering is die beste manier om dit te beskryf. Die eerste emosies was omdat dit eers toe regtig ingesink het dat ek, net ’n normale ou, ’n Guinness-wêreldrekord het. Die trane van waardering was omdat ek toe weereens besef het dat, al staan my naam op die rekord, ek dit nie alleen gedoen het nie en dat ek hoop elke persoon wat deel was van my rekordpoging sal weet dat my dankbaarheid teenoor hulle woordeloos is.”

Basson was weg van die huis toe hy die e-pos oor die goedkeuring ontvang het. Hy en sy vrou, Annalize, het vooraf besluit om die uitslag saam oop te maak, maar die onderwerp van die e-pos het die geheim weggegee.

“Toe sien ek die woorde ‘You are officially amazing!’ in die onderwerp van die e-pos en dit was te laat. Ek het reeds die antwoord.”

Die sertifikaat is via die Suid-Afrikaanse Poskantoor gestuur en het hom sowat vier maande later bereik.

Die sertifikaat hang nou by Zamani Grill se kroegie, bekend as “Die Kleinste Kroegie op die Langste Wynroete in die Wêreld”, langs Roete 62.

Terug na die kole
Basson se eerste rekordpoging in 2023 is nie deur Guinness aanvaar nie. Hy het destyds 84 uur gebraai, maar is later meegedeel dat daar ’n fout met die tydhouding was.

Ná die teleurstelling was ’n tweede poging aanvanklik ver van sy gedagtes.

“Ek was ongelooflik teleurgesteld. Ek het só baie daarin gesit en die hele dorp het agter my gestaan, so toe ek die slegte nuus kry, het ek gevoel asof ek almal in die steek gelaat het.”

Die doel was egter steeds om Calitzdorp en die Klein Karoo blootstelling te gee, maar sy trots het dié keer ook ’n rol gespeel.

“Ek sal sê die eerste poging was 80% reklame en 20% om iets uniek agter my naam te kon sit. My trots het egter die oorhand gekry en ek het besluit dat ’n braai my nie gaan wen nie, so 2025 se rekordpoging was 50/50 – 50% vir reklame en 50% trots en hardegat wees.”

Net drie ure se slaap
Meer as vier dae se braai het sy tol geëis. Honger en om wakker te bly was volgens Basson die moeilikste. Hy het min geëet om badkamerbesoeke tot die minimum te beperk en sy rustyd eerder vir slaap te gebruik.

Guinness se reëls het hom vyf minute rustyd vir elke uur se braai toegelaat, wat hy kon opbou. Basson het aanvanklik 26 uur aaneen gebraai en daarna ongeveer elke 12 uur ’n uur gerus.

“Vir elke uur wat ek rustyd geneem het, het ek in werklikheid net 20 tot 25 minute se slaap ingekry. Ek het dus slegs sowat drie uur tydens die hele braai geslaap.

“Ek was bereid om op my knieë te staan en braai, maar 100 uur sou ek doen. Ek was sterk in gees en deursettingsvermoë, maar die moeilikste geestelike oomblik was om nie voor almal en die kameras in trane uit te bars toe my broers en suster op die Saterdag meer as 400 km gery het om my te kom verras en ondersteun nie.”

Guinness het uiteindelik ’n amptelike tyd van 98 uur en 8 minute erken. Waar die verskil tussen dié tyd en die 100 uur wat Basson en sy span aangeteken het ontstaan het, weet hy nie.

“Guinness se beslissing is finaal en hulle is nie oop vir redenasie daaroor nie. Dit is jammer, want dit lyk nou asof ek aan die einde die braaitang oor my skouer gegooi en gesê het: ‘Ek is nou gatvol gebraai!’ Maar ek is steeds baie trots op wat ons vermag het.”

Meer as net ’n wêreldrekord
Vir Basson was dit belangrik dat die rekord juis in Calitzdorp aangepak word.

“Dit was die doel – om Calitzdorp nóg meer op die ‘map’ te sit. Zamani Grill se blootstelling was sekondêr, maar omdat dit ons restaurant is en ek daar tuis voel, was dit ’n ‘no-brainer’ om die rekordpoging daar te doen.

“Daar is baie mense wat oor die jare ’n groot aandeel daarin gehad het om Calitzdorp se naam hoog te hou en dit is ’n groot eer om te weet dat ek in my eenvoud ook ’n aandeel daarin kon hê.”

Besoekers daag volgens hom steeds by Zamani Grill op om die plek te sien waar die rekord opgestel is.

“Dit maak die rekord nóg meer spesiaal, want nie net het ek in my doel geslaag dat toeriste in Calitzdorp moet stop nie, dit wys dat selfs al is die vuur lank reeds dood, Suid-Afrikaners se liefde vir braai en samesyn nie ’n vervaldatum het nie.”

Die ondersteuning van die Calitzdorp-gemeenskap was vir Basson besonders.

“Om te kon ervaar hoe Calitzdorp se gemeenskap agter my staan, selfs al ken ek sommige mense net van sien, was baie spesiaal. Dit het weereens bewys dat jy nie ‘’n iemand’ hoef te wees nie, maar dat jy net ‘iemand’ moet wees om ’n verskil te kan maak.”

Die 24 monitors wat tydens die poging diens gedoen het, was volgens hom onontbeerlik en het sonder vergoeding deelgeneem.

“Daar is mense wat in die middernag-telike ure moes opstaan net om te kom monitor. Sonder hulle onbaatsugtige deelname sou ek dit nie kon doen nie.”

Alles wat met die fisiese braai verband gehou het, is volgens Basson geborg. LK’s het braaitoerusting verskaf, Wood on Winery in Somerset-Wes die hout en Lekker Nikki het as sy hoofborg vir sosiale media gehelp om die rekordpoging blootstelling te gee.

Ander hoofborge was Blue Daisy Events in Strand vir sosiale media, Fresh Solutions in Kaapstad vir die mielies, Makadas in Ladismith vir die beesvleisrepies, Bertie Fritz en Mahmood Jarrar vir die hoenderdytjies, Hazenjacht Slaghuis buite Oudtshoorn vir die varkvleisrepies, Die Bosvarkie in Calitzdorp vir die boerewors en Ockertskraal vir die braaisout.

Basson sê die ondersteuning het ’n groot finansiële verskil aan die poging gemaak en dat hy sonder die borge self ’n aansienlike bedrag sou moes opdok.

Basson het ook sy Zamani Grill-span bedank. “Ek moet my Zamani Grill- familie bedank, want ons is nie werkge-wers, werknemers of kollegas nie – ons is een familie en hul liefde, omgee en harde werk was die sleutel tot die Guinness-wêreldrekord vir die langste braai wat nou by ons Zamani-huis hang.”

Tydens die poging het hy onder meer 7,7 kg boerewors, 15,1 kg hoenderdye, 8,7 kg varkrashers, 8,3 kg beesrashers en 64 mielies gebraai. Die oorblywende rou produkte is aan Vygieshof geskenk.

Basson het verskeie media genader om groter blootstelling vir Calitzdorp te kry, maar sê daar was aanvanklik min belangstelling.

Hy het Jakkie Louw tydens ’n vorige optrede by Zamani Grill ontmoet en hom later, as Klein Karoo-boorling, gevra om ’n temalied vir die poging te skryf.

“Ek het ’n kans gevat om hom as ’n Klein Karoo-boorling te vra of hy sou belangstel om ’n temalied te skryf wat ek vir die reklame kon gebruik. Ek was nog besig om my ‘pitch’ aan Jakkie te doen toe hy my halfpad stop en sê dat hy dit met groot liefde sal doen, want die Klein Karoo lê diep in sy hart.”

Uit dié samewerking is “Groot in die Klein Karoo” gebore.

Basson het elke uur met ’n nuwe braaitang gebraai, waarna die tange verkoop is om met die koste van die poging te help. Tang nommer 100 word saam met ander memorabilia by Zamani Grill gemonteer.

En ten spyte van byna 100 uur langs die kole het Basson se lus vir braai klaarblyklik nie saam met die vuur uitgebrand nie.

“Ek wou die Maandagaand ná die braaipoging skaaptjoppies by die huis braai, maar ons dorp was leeg gekoop en ek moes toe maar tot die Dinsdag wag om weer te braai.”

As hy vandag terugkyk na die teleurstelling van sy eerste poging en die wêreldrekord wat uiteindelik daaruit gevolg het, is daar een les wat vir hom uitstaan:

“Staan op, stof jouself af en sluk jou trots, want dit maak nie vet nie. Geen sukses word behaal sonder om foute te maak nie.” (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Gielie braai homself in die rekordboeke"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*