Oudtshoorn se lugruim oorgeneem deur skaalmodelvliegtuie

Foto verskaf.

Groot skaalmodelle, straalvliegtuie en klassieke oorlogsvliegtuie gaan van Donderdag 24 tot Sondag 27 September die lugruim bo die Oudtshoorn-lughawe vul wanneer die Oudtshoorn skaalmodelvliegtuie-byeenkoms vir 2026 aangebied word.

Die byeenkoms, wat deur die Kango Vliegklub gereël word, vier vanjaar sy 55ste jaar en het oor die jare ’n bekende instelling onder radiobeheerde modelvliegtuig-entoesiaste geword.

Wat die Oudtshoorn-byeenkoms besonders maak, is dat die modelvliegtuie op ’n volgrootte aanloopbaan vlieg. Die vliegtuie is skaalreplikas van werklike vliegtuie en wissel van groot propelleraangedrewe modelle en sogenaamde warbirds tot vinnige straalvliegtuie.

Volgens die Kango Vliegklub word die 2026-byeenkoms met die ondersteuning van Radio Control Aviation South Africa (RCASA) aangebied.

Vlieëniers van verskillende vaardigheidsvlakke kan deelneem, met die vereiste dat die vliegtuie skaalmodelle van werklike volgrootte vliegtuie moet wees. Lede van die South African Model Aircraft Association (SAMAA) is ook welkom.

Benewens die skaalmo-delvliegtuie sal daar afgebakende areas vir onder meer helikopters en vryvlugmodelle wees, asook indrukwekkende stralervliegtuie (jets).

Oudtshoorn Skaal het ’n lang geskiedenis in die dorp en lok oor die jare modelvlieëniers en belangstellendes van buite die streek. Die groot, gedetailleerde vliegtuie is dikwels die resultaat van baie ure se bouwerk, met aandag aan alles van die kleur- en kentekens tot die manier waarop die oorspronklike vliegtuig in die lug sou beweeg.

Die geleentheid is nie net vir mo-delvlieëniers bedoel nie, maar ’n geleentheid vir alle ouderdomme, waar besoekers onder meer groot skaalmodelle, stralers en oorlogsvliegtuigmodelle kan sien.

Die geleentheid vind by die Oudts-hoorn-lughawe plaas. Vir meer inlig-ting kan Zac Lipschitz by 060 981 1365 gekontak word. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Oudtshoorn se lugruim oorgeneem deur skaalmodelvliegtuie"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*