Lentebal ’n reusesukses vir Oudtshoorn Vaardigheidskool

Van die Oudtshoorn Vaardigheidskool se gasvryheidstudie-leerders wat hul hande tydens die Lentebal met kosvoorbereiding en bediening vol gehad het.

Meer as R50 000 is Vrydagaand, 18 September, tydens die Oudtshoorn Vaardigheidskool se eerste Lentebal ingesamel, met meer as R30 000 daarvan wat uit die aand se veiling gekom het.

Die Lentebal is aangebied as fondsinsameling vir die Oudtshoorn Vaardigheidskool se koshuis, in samewerking met Die Hoorn, Jakhals Events en Castle Lite.

Vanjaar se Lentebal is as ’n maskerbal aangebied, met gaste wat in formele uitrustings en maskers opgedaag het.

Musiek is deur die Oudtshoorn-boorling Byron Minnie verskaf, saam met kitaarspeler Jerry Spangenberg.

Die skool se leerders was ook deel van die aand. Van die Gasvryheidstudie-leerders het met die voorbereiding van die kos gehelp en ook tydens die funksie bedien.

Jaco Stevens, skoolhoof van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, het ná afloop van die aand sy dank uitgespreek teenoor almal wat tot die sukses daarvan bygedra het.

“Baie dankie aan elkeen vir julle betrokkenheid, hulp en harde werk met ons Lentebal. Dankie aan almal voor én agter die skerms, en veral vir die laatnag,” het hy gesê.

Selfs die weer het volgens Stevens saamgespeel. “Ons het gebid vir goeie weer en dat die wind moet lê, en Hy het voorsien.”

Stevens het die funksie en die veiling as ’n “reusesukses” beskryf en gesê die terugvoer wat hulle daarna ontvang het, was fenomenaal.

“Ek is ongelooflik trots om ’n Valkie te wees en te sien wat ons met samewerking bereik het.”

Verskeie plaaslike ondernemings en ondersteuners het produkte en ervarings vir die veiling beskikbaar gestel. Onder die borge was Swartberg Country Manor, Berluda Farmhouse and Cottages, De Zeekoe Guest Farm, Calitzdorp Cellar, Boplaas, 10 Oxes Craft Distillery, Axe Hill, TTT Cellars, De Krans en Die Bush Lapa in Heroldsbaai.

Van die besondere veilingitems was ’n Protea-trui van Rubin Hermann en ’n Stormers-trui van Henk Eksteen, asook ’n krieketkolf met die handtekeninge van verskeie krieketspelers.

Die Vaardigheidskool se eie vaardigheidsklasse het ook items vir die veiling gemaak en beskikbaar gestel. Dit het onder meer ’n jaar se beskuitvoorraad, ’n yshamer, ’n rocket-stoof en ’n flip-rooster ingesluit. Altesaam R33 000 is deur die veiling alleen ingesamel.

Die Lentebal was die eerste van wat die skool beplan om ’n jaarlikse lentefunksie te maak. Daar word reeds vooruit gekyk na volgende jaar se geleentheid, wat ’n Cowboy-tema sal hê.

Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor elke onderneming wat ’n tafel gekoop het, die borge en skenkers, asook almal wat voor en agter die skerms saamgewerk het om die Lentebal ’n sukses te maak. (MALISSA SPIES)

Lede van Die Hoorn-span het die aand by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se Lentebal geniet.

Be the first to comment on "Lentebal ’n reusesukses vir Oudtshoorn Vaardigheidskool"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*