
Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) het onlangs teruggekeer na ’n afgeleë gebied net buite Oudtshoorn, met volgens hulle een van die swakste paaie in die omgewing, om opvolgwerk te doen ná ’n uitreikaksie die vorige week.
Tydens die eerste besoek is katjies verwyder, honde behandel en reëlings vir sterilisasies getref. Daar is ook tyd saam met die kinders in die gemeenskap deurgebring, waartydens opvoedkundige video’s op selfone gewys is.
Met die opvolgbesoek is ’n ontstellende situasie egter aangetref. Een van die jong seuns wat die vorige week groot belangstelling in die opvoedkundige materiaal getoon het, het wat na ’n gebreekte hand gelyk het gehad. Hy was in pyn nadat hy geval en sy hand beseer het terwyl hy gespeel het.
Sy ma is intussen in die hospitaal opgeneem met steekwonde ná ’n voorval die vorige naweek, maar daar is nie ’n ambulans of mediese hulp vir die seuntjie ontbied nie, wat sy situasie ekstra dringend gemaak het.
Ten spyte van bestaande noodverpligtinge en klagtes oor dieremishandeling en -verwaarlosing, is besluit om klein Nathan saam met ’n verant- woordelike volwassene dorp toe te neem vir mediese hulp.
Daar is by EasyCare in Oudtshoorn gestop, waar ’n dokter Nathan ondersoek het en hom vir X-strale verwys het. Volgens die dokter het die feit dat hy dieselfde dag behandeling ontvang het, sy hand gered.
Die senuwee tussen sy wysvinger en duim was vasgeknyp en besig om af te sterf. Nog ’n paar dae se vertraging sou moontlik permanente skade veroorsaak het, wat sou beteken dat hy nie sy hand ten volle sou kon gebruik nie. ’n Opvolgondersoek is geskeduleer.
’n Kort besoek aan McDonald’s het die uitstappie vir die jong seun ligter gemaak.
Volgens ODIN is dit ’n voorbeeld van hoekom die organisasie nie altyd by alle dierereddings kan uitkom nie. Dit is nie net diere in die gemeenskappe wat swaarkry nie.
’n Foto is intussen van een van die plaaswerkers ontvang. Nathan het klere, skoene, ’n tandeborsel en tandepasta ontvang, asook ’n McDonald’s-speelding saam met sy ete wat hy nog te lekker mee speel.
Volgens ODIN is dit moontlik gemaak deur donasies van die publiek.