
Die Eden/Overberg “vriendelike” toutrek-kompetisie wat Saterdag 7 Februarie by Laerskool Wesbank se sportgronde gehou is, was ’n groot sukses. Dit was die eerste kompetisie wat deur Laerskool Wesbank gereël en aangebied is.
Sowat 60 spanne van Belhar naby Kaapstad, Riversdal, Ladismith, Calitzdorp, Mosselbaai en Oudtshoorn het aan die volgende kategorieë deelgeneem: 230 kg, 280 kg, 320 kg, 340 kg, 360 kg, 400 kg, 420 kg, 440 kg, 480 kg, 520 kg, 560 kg en 600 kg.
Die bogenoemde gewigafdelings word ook opgedeel in seuns-, dogters- of gemengde spanne. Die juniors (tot en met 13 jaar), trek kaalvoet tou, en van 14 jaar en ouer trek die spanne met spesiale stewels. Elke span moet agt toutrekkers hê, waarvan hulle die kategorie gewig opmaak in liggaamsgewig.
’n 280 kg span kan maksimum 280 kg weeg, maar kan minder weeg om te kan deelneem. Daar is ook ’n ontwikkelingsafdeling vir nuwe toetreders in die sport waar die spanne vir ’n maksimum van twee jaar kan deelneem. Saterdag se toutrekkers is Maandag geweeg vir die kompetisie.
Daar was geen tekort aan aksie gewees nie. Daar is sinchronies beweeg en asem gehaal, terwyl afrigters hul spanne langs die toue gemotiveer het. Spanne het letterlik tou getrek dat die stof staan. Selfs die hitte en hoë humiditeit kon nie 10 ure se toutrek aksie demp nie.
Die volgende toutrekbyeenkoms vind Saterdag 28 Februarie by die Oudtshoorn Vaardigheidskool plaas, by die Eden Toutrek-kompetisie.
Vir meer inligting oor toutrek in die Klein Karoo of om by ’n span aan te sluit, kontak gerus vir Amelia Lubbe by 079 880 2777 van die Oudtshoorn Toutrek-klub. (ANGELIQUE ERASMUS)

Eden/Overberg toutrek-kompetisie wenners:
230 kg gemeng: Laerskool Wesbank A
230 kg seuns: Laerskool Wesbank B
280 kg gemeng: Laerskool Volschenk
280 kg seuns: Excelsior VGK B
320 kg gemeng: Shalom Akademie
320 kg seuns: Laerskool Wesbank E
340 kg dogters: Laerskool Wesbank A
360 kg gemeng: Laerskool Wesbank A
360 kg seuns: Hoërskool Calitzdorp
400 kg gemeng: Laerskool Wesbank B
400 kg seuns: Laerskool Laurus A
420 kg seuns: Hoër Landbouskool Oakdale B
440 kg seuns: Shalom Akademie
440 kg seuns: Hoërskool Calitzdorp
480 kg dogters: Shalom Akademie
480 kg seuns: Hoër Landbouskool Oakdale C
520 kg gemeng: Hoërskool Punt
520 kg seuns: Hoër Landbouskool Oakdale C
560 kg seuns: Hoër Landbouskool Oakdale
600 kg seuns: Hoër Landbouskool Oakdale