Verskeie regeringsdienste kom na Calitzdorp

Calitzdorp-inwoners sal volgende week die geleentheid kry om verskeie regerings- en ander dienste op een plek te bekom wanneer die Thusong Mobiele Projek die dorp besoek.

Die uitreikprogram vind op Woensdag 19 Augustus en Donderdag 20 Augustus van 09:00 tot 15:00 by die Calitzdorp Stadsaal plaas.

Die Thusong-program is daarop gemik om geïntegreerde regeringsdienste nader aan gemeenskappe te bring, veral in landelike gebiede waar inwoners dikwels ver moet reis om toegang tot die dienste te kry.

Verskeie staatsdepartemente, agentskappe en ander diensverskaffers sal tydens die twee dae beskikbaar wees. Inwoners sal onder meer hulp kan kry met beperkte ID-slimkaart-aansoeke en heruitreikings (koste kan slegs per bankkaart betaal word), SASSA-toelae, gesondheidstoetse, Padongelukkefondseise en -navrae, regsadvies en finansiële dienste.

Die Departement van Binnelandse Sake sal ID-dienste lewer, terwyl die Departement van Gesondheid en Welstand onder meer MIV-toetse, servikale gesondheid en sputumtoetse sal aanbied. SASSA sal inwoners met nuwe aansoeke, keurings en navrae bystaan.

Die Padongelukkefonds (RAF) sal hulp bied met die verskaffing van inligting oor produkte en die status van bestaande eise. Legal Aid SA sal op 20 Augustus beskikbaar wees vir algemene regsadvies en inligting, terwyl die Kommissie vir Versoening,

Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA/CCMA) slegs op 19 Augustus arbeidsverwante navrae en sakeverwysings sal hanteer.
Ander deelnemers sluit onder meer die departemente van Maatskaplike Ontwikkeling, Landbou en Infrastruktuur, asook Stats SA, SEFDA, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en Suid-Kaap TVET Kollege in.

Inwoners kan ook hulp en inligting oor onder meer behuising, maatskaplike dienste, besigheidsregistrasie en -finansiering, loopbaanrigting, studieprogram-me en studiebeurse bekom.

Die Wes-Kaapse Thusong-program werk saam met munisipaliteite, staatsdepartemente en ander vennote om inwoners toegang tot verskeie dienste tydens sulke uitreikprogramme te gee.

Be the first to comment on "Verskeie regeringsdienste kom na Calitzdorp"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*