Hofbevel verskerp maatreëls teen seksuele oortreders in onderwys

Foto: Pexels.com

’n Hofbevel wat onderwysdepartemente verplig om opvoedkundige personeel teen die Nasionale Kinderbeskermingsregister (NCPR) te verifieer, is ’n belangrike stap om te voorkom dat persone wat nie geskik is om met kinders te werk nie, in die onderwysstelsel bly of aangestel word.

Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het onlangs ’n skikkingsooreenkoms tussen die Departement van Basiese Onderwys (DBO), provinsiale onderwysdepartemente, die Teddy Bear Foundation (TBF) en SECTION27 ’n hofbevel gemaak.

Die saak spruit uit ’n voorval waarin ’n laerskoolleerder in 2015 op ’n skoolterrein deur ’n opsigter verkrag is. SECTION27 en die TBF het later vasgestel dat die oortreder, selfs nadat hy skuldig bevind en afgedank is, nie op die Kinderbeskermingsregister geplaas is nie.

Volgens SECTION27 het die saak sistemiese tekortkominge in die toepassing van Deel B van die register blootgelê. Dié deel bevat die besonderhede van persone wat nie geskik bevind is om met kinders te werk nie.

Die organisasie wys ook daarop dat die Minister van Basiese Onderwys in 2025 aan die parlementêre portefeuljekomitee erken het dat slegs 19% van opvoeders landswyd teen die Nasionale Register vir Seksoortreders gekeur is, sonder bevestiging dat hulle ook teen die Kinderbeskermingsregister geverifieer is.

Ingevolge die hofbevel moet die DBO en provinsiale onderwysdepartemente die verifikasie van alle huidige werknemers teen 31 Maart 2027 afhandel en kwartaalliks oor vordering verslag doen. Verifikasie teen die Kinderbeskermingsregister moet voortaan ook deel vorm van werwings- en aanstellingsprosesse, terwyl niemand wie se naam op Deel B van die register verskyn, in ’n pos waar hulle met kinders werk, aangestel of behou mag word nie.

SECTION27 sê die ooreenkoms gaan in sy kern oor kinders se grondwetlike regte op veiligheid, waardigheid en basiese onderwys. “Skole moet plekke wees waar kinders sonder vrees vir seksuele oortreders, lyfstraf, afknouery of intimidasie kan leer, speel en groei,” lui die organisasie se verklaring.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het die hofbevel verwelkom en sê dit versterk maatreëls om kinders in die onderwysstelsel te beskerm.

Volgens die SAOU behoort die verifikasiestelsel egter nie net op huidige werknemers van toepassing te wees nie. Die unie meen dit behoort ook uitgebrei te word na opvoeders wat die openbare onderwys verlaat en moontlik in ’n ander provinsie of die privaat sektor gaan werk.

“Die beste belang van die kind moet altyd voorop staan,” sê die SAOU. Die unie voeg by dat hy enige onderwyser wat aan seksuele misdrywe skuldig bevind word, ten sterkste veroordeel.

Die omvang van die probleem word ook in SECTION27 se verslag, Protecting the Future Today: The Need for an Efficient National Child Protection Register to Curb Violence Against Children, uitgelig.

Die verslag wys daarop dat die Nasionale Kinderbeskermingsregister en die Nasionale Register vir Seksoortreders saam gebruik behoort te word om te voorkom dat persone wat nie geskik is om met kinders te werk nie, in skole en ander kinderomgewings aangestel word.

Volgens die verslag het een uit elke vyf kinders seksuele mishandeling ervaar, een uit drie fisieke mishandeling en een uit ses emosionele mishandeling. Daarbenewens het 45% van Suid-Afrikaanse huishoudings met kinders tussen 2021 en 2022 een of ander vorm van geweld teen kinders aangemeld.

Die organisasie waarsku verder dat die Kinderbeskermingsregister reeds langer as 16 jaar bestaan, maar steeds onderbenut word.

Volgens SECTION27 hou dit “’n ernstige risiko vir die doeltreffendheid van die land se kinderbeskermingstelsel” in.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikke-ling het die hofaansoek teengestaan en aangevoer dat daar geen agterstand met die instandhouding van die register is nie. Uitspraak oor dié deel van die saak is voorbehou.

Be the first to comment on "Hofbevel verskerp maatreëls teen seksuele oortreders in onderwys"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*