Nuwe wetgewing teiken onstabiliteit in munisipale rade

Foto: Die Hoorn-argief

Terwyl politieke spanning en veranderinge die afgelope tyd in verskeie munisipale rade – ook op Oudtshoorn – die kollig op die stabiliteit van plaaslike regering geplaas het, is nuwe wetgewing wat koalisieregerings strenger wil reguleer op pad Parlement toe.

Die Kabinet het onlangs goedkeuring verleen dat die Local Government: Municipal Structures Amendment Bill 2026, beter bekend as die “Coalition Bill”, by die Parlement ingedien word.

Die wetsontwerp is daarop gemik om ’n duideliker wetlike raamwerk vir die vorming en bestuur van koalisieregerings in munisipaliteite te skep en probleme wat met onstabiele koalisies gepaardgaan, te beperk.

Dit kom enkele maande voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November, waarna koalisies weer in talle munisipaliteite ’n belangrike rol kan speel.

Koalisies moet op skrif wees
Een van die belangrikste veranderings wat reeds deur die regering aangekondig is, is dat politieke partye wat ná die verkiesing ’n koalisieregering vorm, formele koalisie-ooreenkomste sal moet aangaan.

Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het in Mei gesê die ooreenkomste sal die partye se verbintenisse en verantwoordelikhede uiteensit.

Die regering hoop dat duideliker reëls sal help voorkom dat politieke geskille en veranderende koalisies die bestuur van munisipaliteite en dienslewering ontwrig.

Mosies van wantroue onder die loep
Die oorspronklike weergawe van die wetsontwerp, wat in 2024 vir openbare kommentaar gepubliseer is, het ook voorgestel dat strenger reëls moet geld vir die verwydering van politieke ampsdraers soos burgemeesters en speakers.

Een van die probleme wat die wetgewing probeer aanspreek, is die herhaaldelike gebruik van mosies van wantroue om die politieke beheer van rade te verander.

Die 2024-voorstelle het onder meer beperkings op die gereelde verwydering van ampsdraers, ’n moontlike minimum verkiesingsdrempel en nuwe reëls rondom stemmings in rade bevat.

Die wetsontwerp is egter sedertdien na uitgebreide konsultasie verder verfyn. Die presiese bepalings van die finale 2026-weergawe sal eers duidelik wees wanneer die dokument amptelik beskikbaar gestel word.

Wat wil die wetsontwerp keer?
CoGTA sê die wetsontwerp is onder meer daarop gemik om bestuursprobleme aan te spreek wat in koalisiemunisipaliteite ontstaan het.

Dit sluit volgens die departement situasies in waar kleiner partye met beperkte verteenwoordiging ’n buitensporige invloed op die funksionering van ’n raad uitoefen, asook koalisies wat deur die belofte van senior poste of selfs omkopery beïnvloed word, eerder as deur die belang van die munisipaliteit en dienslewering.

Die departement wys ook op binnegevegte en uitstappies uit raadsvergaderings wat daartoe lei dat ’n kworum nie bereik word nie en rade gevolg-lik nie hul wetlike pligte kan uitvoer nie.

Nog ’n probleem is wanneer politieke onstabiliteit verhinder dat sleutelposte gevul of begrotings, geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP’s) en beleid aanvaar word. Dit kan volgens CoGTA uiteindelik daartoe lei dat munisipaliteite nie hul begrotings kan bestee om agterstande in dienslewering aan te spreek nie.

Al hoe meer rade sonder meerderheid
Die behoefte aan wetgewing oor koalisies het toegeneem namate meer munisipaliteite ná verkiesings sonder ’n party met ’n volstrekte meerderheid sit.

Volgens CoGTA het die aantal sogenaamde “hung councils” van 24 ná die 2000-verkiesing tot 81 ná die plaaslike regeringsverkiesing van 2021 toegeneem.

Dit beteken partye moet saamwerk om ’n meerderheid te vorm, maar die koalisies het in sommige munisipaliteite herhaaldelik verander.

Die regering sê die nuwe wetgewing moet politieke stabiliteit en aanspreeklikheid verbeter en help verseker dat politieke veranderinge nie dienslewering aan inwoners ontwrig nie.

Die finale wetsontwerp moet deur die parlementêre proses gaan voordat dit wet kan word.

Lees ook:

Date set for 2026 municipal elections

Verskeie regeringsdienste kom na Calitzdorp

Oudtshoorn Municipality offers a chance to write off 40% of arrears

Kontantlose toekoms? Raad kyk na nuwe betaalstelsels

Distriksmunisipaliteit neem beheer van brandpermitte

Be the first to comment on "Nuwe wetgewing teiken onstabiliteit in munisipale rade"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*