Distriksmunisipaliteit neem beheer van brandpermitte

Foto: GRDM-argiewe

Boere en ander grondeienaars in die Groter Oudtshoorn-gebied wat beplande of beheerde brande wil uitvoer, sal voortaan hul permitte by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) se Brand- en Reddingsdienste moet aanvra.

Die verandering het op 1 Julie in werking getree nadat die verantwoordelikheid vir die administrasie van voorgeskrewe brandpermitte amptelik van plaaslike munisipaliteite na die GRDM oorgedra is.

Volgens ’n openbare kennisgewing van die GRDM sluit die oordrag die goedkeuring, inspeksie, monitering en afdwinging van voorgeskrewe brandpermitte in. Die nuwe stelsel geld vir die hele Tuinroete-distrik, insluitend die Groter Oudtshoorn-, Kannaland-, Hessequa-, George-, Knysna- en Bitou-munisipaliteite.

Morné Thysse van Oudtshoorn Brandweer het verduidelik dat die verandering beteken dat die plaaslike brandweer nie meer beheerde brandpermitte sal uitreik nie. Hy sê die funksie het nog altyd onder die distriksmunisipaliteit geval, maar is in die verlede plaaslik hanteer.

Volgens Thysse sal aansoekers die GRDM voortaan direk moet kontak. Beamptes sal vanuit George die nodige terreininspeksies doen voordat permitte uitgereik word, en inspeksiefooie kan van toepassing wees. Hy beklemtoon egter dat Oudtshoorn Brandweer se operasionele rol onveranderd bly.

Die plaaslike brandweer sal steeds die eerste eenheid wees wat op veld- en bosbrande reageer om die brand onder beheer te bring totdat die GRDM se brandspan op die toneel arriveer.

Enigiemand wat ’n beheerde brand wil uitvoer, moet ’n aansoekvorm voltooi en aan die GRDM voorlê. Die vorm vereis onder meer besonderhede oor die eiendom, die ligging van die beplande brand, die doel daarvan, die tipe plantegroei wat verbrand gaan word, asook die beskikbare brandbestrydingstoerusting en personeel.

Die permit bevat ook streng voorwaardes. Beheerde brande mag slegs van Maandag tot Donderdag plaasvind, mits weersomstandighede gunstig is, en alle vure moet teen 16:00 volledig geblus wees. Geen permitte sal uitgereik word wanneer die brandgevaarindeks hoog of baie hoog is nie.

Die GRDM sê die oordrag vorm deel van pogings om veldbrandbestuur regoor die Tuinroete te standaardiseer en beter te koördineer.

Vir navrae of aansoeke kan grondeienaars Deon Stoffels, distriksbrandweerhoof van die GRDM, kontak by 044 878 1000 of 083 941 1994.

Aansoeke en navrae kan ook per e-pos gestuur word na rekords@gardenroute.gov.za of deon@gardenroute.gov.za.