Ondersteuning stroom in na noodlottige ongeluk

Foto: Istock

Ondersteuning en boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom nadat een van Potgieter Passasiers Vervoer se minibusse Dinsdag 7 Julie in ’n noodlottige botsing op die N2 tussen Heidelberg en Swellendam betrokke was.

Volgens die Wes-Kaapse Departement van Mobiliteit het die botsing omstreeks 10:00 tussen ‘n minibus en ’n SUV plaasgevind.
Drie mense is aanvanklik op die toneel dood, twee insittendes van die SUV en een passasier in die minibus, terwyl 14 mense beseer is. Die dodetal het intussen tot vyf gestyg nadat die twee ander insittendes van die SUV later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Die buspassasier wat in die botsing omgekom het, was ‘n 34-jarige vrou van Oudtshoorn. Sy sou op 9 Julie haar 35ste verjaardag gevier het en was op pad na Worcester om by haar familie te wees.

Potgieter Passasiers Vervoer, wat ook bekend staan as Potgieterbussie, het na die ongeluk in ’n verklaring gesê die veiligheid van sy passasiers was nog altyd sy hoogste prioriteit.

“Al doen ons alles moontlik om elke reis veilig te maak, gebeur daar soms dinge wat buite enigiemand se beheer is.

“Ons gedagtes en gebede is by almal wat deur vandag se tragiese ongeluk, waarin een van ons busse betrokke was, geraak is.

“Baie dankie vir almal se ondersteuning, gebede en omgee gedurende hierdie moeilike tyd,” lui die verklaring.

Die kennisgewing wat Potgieter Passasiers Vervoer ná die ongeluk op sy Facebook-blad gedeel het:



Talle boodskappe van ondersteuning vir Potgieter Passasiers Vervoer het op sosiale media ingestroom. Mense het hul medelye met die slagoffers en hul families uitgespreek, terwyl hulle ook die maatskappy sterkte toegewens en hul ondersteuning in die moeilike tyd betuig het.

Die oorsaak van die botsing word steeds ondersoek.