Reuse-opruiming na rotsstorting op Kangogrottepad afgehandel

Operateurs van Volmoed Quarries & Van der Berg Vervoer tydens die opruiming van die rotsstorting op die R328 na die Kangogrotte. Foto’s: Volmoed Quarries & Van der Berg Vervoer Facebook

Meer as 7 150 ton rotse en puin is van die R328 na die Kangogrotte verwyder in ’n opruimingsoprasie na die onlangse rotsstorting, maar die pad bly steeds gesluit totdat dit deur die owerhede veilig verklaar word.

Volgens Volmoed Quarries & Van der Berg Vervoer is die laaste vrag Vrydag 3 Julie verwyder, wat die skoonmaak van die pad voltooi het.

Die maatskappy beklemtoon egter dat sy verantwoordelikheid slegs die verwydering van die rotsmateriaal op die gedeelte van die pad was. Die besluit oor wanneer die pad heropen, berus uitsluitlik by die betrokke owerhede nadat alle veiligheidsinspeksies en geotegniese assesserings afgehandel is.

(Die R328 na die Kangogrotte is weer oop. Lees die opvolgberig hieronder.)

“Die pad sal eers heropen wanneer die relevante owerhede dit veilig verklaar. Ons is nie deel van daardie besluitnemingsproses nie,” het die maatskappy gesê.

Die publiek is versoek om geduldig te wees en die owerhede kans te gee om ’n besluit oor die veilige heropening van die pad te neem.

Volmoed Quarries & Van der Berg Vervoer het ook sy operateurs geloof vir hul werk onder uitdagende omstandighede.
“Ons operateurs het ’n fenomenale werk gedoen,” het die maatskappy gesê.

Die maatskappy het verder sy dankbaarheid uitgespreek dat die hele opruimingsoperasie sonder enige beserings of ongelukke afgehandel is.

Volmoed Quarries & Van der Berg Vervoer het ook die plaaslike besighede bedank wat hul werkers gedurende die operasie met kos en verversings ondersteun het.

Intussen het die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, bevestig dat die rotsstortingsrommel reeds laat op Vrydag 3 Julie van die pad verwyder is. Hy waarsku egter dat die skoongemaakte pad die indruk kan skep dat dit veilig is, terwyl dit nie die geval is nie.

Weens skade aan die padoppervlak en die voortgesette risiko van verdere rotsstortings bly die R328 gesluit.

Spanne is tans besig om die rotshelling te stabiliseer en die padoppervlak gereed te maak vir ’n veilige heropening. Indien verdere geotegniese assesserings, asook die weer- en terreintoestande gunstig is, hoop die Departement van Infrastruktuur om die pad teen Vrydag 10 Julie onder stop-en-ry beheer te heropen.

Simmers het om verskoning gevra vir die ongerief en sy dank uitgespreek teenoor al die spanne op die terrein, asook die publiek en vennote vir hul geduld en begrip terwyl die herstelwerk voortduur.

OPVOLG: Kangopad heropen onder stop-en-ry-beheer

Die R328 na die Kangogrotte is Vrydagoggend 10 Julie om 11:45 weer vir verkeer oopgestel nadat meer as 7 100 ton rotse en puin na die onlangse rotsstorting van die pad verwyder is.

Volgens die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur is die pad na die nodige toetse onder stop-en-ry-beheer vir verkeer heropen.

Herstelwerk duur egter voort, met spanne wat steeds besig is om die rotshelling te stabiliseer en die padoppervlak te herstel om uiteindelik ‘n volledige heropening moontlik te maak.

Die departement waarsku dat die risiko van verdere rotsstortings steeds bestaan en dat die pad, indien nodig, met kort kennisgewing weer gesluit kan word in die belang van padgebruikers se veiligheid.

Motoriste word versoek om versigtig te bestuur en alle verkeersbeheermaatreëls te gehoorsaam.

Lees ook:

Petisie lei tot besoek van premier aan Oudtshoorn

Besigheidskamer dink saam oor pad vorentoe na vloede