Petisie lei tot besoek van premier aan Oudtshoorn

Premier Alan Winde spreek rolspelers by Cango Wildlife Ranch toe nadat hy na hul vrae en insette geluister het. Foto: Malissa Spies

Nadat ’n petisie met duisende handtekeninge oor die sluiting van die Kango Grotte-pad onlangs aan premier Alan Winde oorhandig is, het hy op Vrydag 19 Junie na Oudtshoorn gereis om self na die bekommernisse van inwoners, besighede en ander belanghebbendes te luister.

Winde het tydens die vergadering aangedui dat hy die situasie eerstehands wou ervaar en direk met die gemeenskap in gesprek wou tree oor die impak van die storms, padsluitings en die herstelproses.

Die vergadering het by Cango Wildlife Ranch plaasgevind en is bygewoon deur premier Alan Winde, die burgemeester van Oudtshoorn Mziwoxolo Tyatya, die uitvoerende burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit Marais Kruger, asook lede van hul onderskeie spanne. Verteenwoordigers van die sakegemeenskap, toerismesektor, landboubedryf, en die breër gemeenskap het die geleentheid gekry om vrae te stel en uitdagings onder die premier se aandag te bring.

In plaas daarvan om slegs ’n oorsig van die stormskade te gee, het Winde die grootste deel van die sessie gebruik om na insette vanuit die gehoor te luister. Terwyl vrae en bekommernisse na vore gebring is, het hy aantekeninge gemaak van die verskillende kwessies wat inwoners en besighede raak.

Aan die einde van die vergadering het hy op die vrae gereageer, die hoofpunte saamgevat en terugvoer gegee oor die provinsiale regering se rol in die herstelproses.

Van die belangrikste sake wat bespreek is, was die sluiting van die Kango Grotte-pad (R328), die skade aan Meiringspoort, die sluiting van die Swartbergpas, die impak daarvan op toerisme en plaaslike ondernemings, asook die breër ekonomiese gevolge wat die storms vir die Klein Karoo inhou.

Die invloed van padsluitings op besoekersgetalle, toerisme-inkomste, werksgeleent-hede en die beweging van inwoners tussen gemeenskappe is ook onder die premier se aandag gebring.

Een van die grootste uitdagings wat tydens die gesprek uitgelig is, bly die skade aan Mei-ringspoort. Die Wes-Kaapse regering het bevestig dat die koste van herstelwerk aan die historiese roete tans op ongeveer R421 miljoen geraam word. Die omvang van die skade is sodanig dat die heropbouprogram na verwagting sowat 26 maande sal neem om te voltooi.

Die besoek het plaasgevind tydens voortgesette herstelwerk na die ernstige storms en oorstromings wat groot skade aan infrastruktuur in die streek veroorsaak het. Die sluiting van die Kango Grotte-pad en Swartbergpas het veral kommer gewek onder toerisme-ondernemings wat afhanklik is van besoekers wat die streek deur hierdie ikoniese roetes verken.

Volgens die Wes-Kaapse regering verskuif die fokus toenemend van noodreaksie na langtermyn-herstel en die herbou van kritieke infrastruktuur. Die regering het onlangs aangedui dat die volle omvang van die skade steeds bepaal word, terwyl herstelwerk op verskeie paaie en ander infrastruktuur reeds aan die gang is.

Winde het tydens die vergadering beklemtoon dat die provinsiale regering daartoe verbind is om saam met plaaslike owerhede, besighede en gemeenskappe te werk om die streek se herstel te ondersteun. Hy het ook erken dat die skade aan paaie en ander infrastruktuur ’n beduidende uitwerking op die plaaslike ekonomie, toerismebedryf en inwoners het.

Die premier se besoek vorm deel van die Wes-Kaapse regering se voortgesette oorsig van herstel- en herbouprojekte in gebiede wat deur die onlangse uiterste weergebeure geraak is. (MALISSA SPIES)