Besproeiingsinfrastruktuur onder druk na vloed, maar damme bied hoop vir boere

Bo: Stompdriftdam loop oor en sorg vir ’n pragtige watermuur. Foto's verskaf.

Die Wes-Kaapse minister van landbou en toerisme, Ivan Meyer, het tydens ’n onlangse besoek op Maandag 15 Junie, aan De Rust en omliggende gebiede eerstehand kennis geneem van die omvangryke skade wat die onlangse vloede aan landbou, toerisme en infrastruktuur in die streek aangerig het.

Een van die grootste uitdagings bly die skade aan Meiringspoort, waar herstelwerk volgens huidige ramings sowat R420 miljoen sal kos. Die poort is ’n belangrike skakel tussen die Groot- en die Klein Karoo en speel ’n sleutelrol in die plaaslike ekonomie.
Meyer het boere verseker dat hy hul bekommernisse rakende die streek se infrastruktuur en waterbestuur ernstig opneem.

Hy het kennis geneem van hul versoek dat ’n omvattende haalbaarheidstudie gedoen word om die lang- termynvolhoubaarheid van die gebied se infrastruktuur en waterstelsels te bepaal, sodat toe-komstige vloede beter bestuur kan word.

As deel van sy besoek het die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV) die minister na die Stompdriftdam geneem, waar die dam tans oorloop ná die goeie winterreën.

By die dam het die bekende boer Gerrit “Swepie” le Roux van Doornkraal vertel hoe sy pa, PK le Roux, gedurende sy termyn as minister van landbou die dryfveer was agter die bou van die Stompdriftdam. Die dam is in 1965 in die Olifantsrivier voltooi met die doel om die impak van somerfratsvloede te beperk en terselfdertyd ’n betroubare bron van besproeiingswater vir boere in die streek te skep.

Volgens Amie Snyman, voorsitter van SKWGV, is die volle omvang van die skade aan die infrastruktuur nog nie bepaal nie. Die watergebruikersvereniging se besproeiingskema strek van De Rust tot digby Calitzdorp, en op verskeie plekke is ernstige skade aan die waternetwerk aangemeld.

“Die skade is omvangryk en plaas groot druk op die vereniging se finansiële hulpbronne,” het Snyman gesê.
Hy verduidelik dat die skade veral stroomaf van die skema toegeneem het.

“Hoe verder teen die skema af beweeg word in die rigting van Calitzdorp, hoe sterker was die water en hoe groter is die skade aan slote, pype en kanale wat water na lande afvervoer.”

Ten spyte van die groot skade sê Snyman daar is ook rede vir optimisme.

“Op ’n positiewe noot bring die water in die damme watersekerheid vir die volgende twee en ’n halfjaar aan die lede van die skema.”

Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap het gesê die oorvol damme bied wel uitstekende vooruitsigte vir die komende seisoene, maar gewaarsku dat beskikbare water min waarde het indien beskadigde infrastruktuur nie betyds herstel word nie.

Hy het daarop gewys dat baie boere moontlik nie die volle voordeel van die water sal kan benut voordat slote, pype en kanale herstel is nie. Volgens hom is dit noodsaaklik dat administratiewe prosesse tydens ramptoestande vereenvoudig word, sodat herstelwerk vinniger goedgekeur en uitgevoer kan word.

SKWGV se bestuur het ook hul dank teenoor die Departement van Landbou, Wes-Kaap uitgespreek vir hul volhoue ondersteuning die afgelope vyf jaar.

Die besoek het die belangrikheid beklemtoon van samewerking tussen die regering, landbou- organisasies en watergebruikers om die streek se infrastruktuur te herstel en die Klein Karoo meer weerbaar teen toekomstige natuurrampe te maak. (ANGELIQUE ERASMUS)

Amie Snyman, voorsitter van SKWGV, saam met Ivan Meyer Wes-Kaapse minister van landbou en toerisme en Gerrit “Swepie” le Roux.