Meiringspoort: Mikpunt vir tydelike heropening

Herstelwerk aan die N12 deur Meiringspoort vorder goed. Die pad sal na verwagting vroeg in Desember tydelik vir enkelbaanverkeer heropen. Foto: Facebook/Minister Tertuis Simmers

Motoriste kan moontlik teen die begin van die feestyd weer deur Meiringspoort reis, terwyl noodherstelwerk aan die vloedbeskadigde N12 tussen De Rust en Klaarstroom voortgaan.

Tydelike omleidings word gebou om die pad gedeeltelik onder stop-en-ry-beheer oop te stel. Die Hoorn het vroeër berig dat die doel is om die roete vroeg in Desember 2026 tydelik vir enkelbaanverkeer te heropen.

“Ons verwag dat gedeeltelike voertuigtoegang teen die feestyd herstel sal wees,” sê die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers. Vloedpuin en sand is reeds van die padoppervlak verwyder en talle brugopeninge is skoongemaak. Permanente en tydelike herstelwerk aan die pad is aan die gang, terwyl verskeie gedeeltes van die padwalle reeds herstel is.

Motoriste moet daarop let dat verskeie kort padgedeeltes tydens die beplande heropening nog sonder ’n verseëlde padoppervlak sal wees. Verdere permanente werk sal vroeg in 2027 volg wanneer die bouspan ná die bouersvakansie terugkeer.

Volgens Simmers sluit die projek beskermingswerk in om die risiko van toekomstige vloedskade te verminder. Hy vra gemeenskappe se samewerking en waarsku dat ontwrigting van bouwerk die heropening kan vertraag.

Die volledige herstelprojek van R486 miljoen sal na verwagting teen einde Oktober 2028 afgehandel wees.

Meiringspoort is ’n belangrike verbinding tussen die Klein Karoo en die binneland. Die Hoorn sal lesers op hoogte hou van die vordering en reëlings vir die beplande heropening. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Meiringspoort: Mikpunt vir tydelike heropening"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*