Voortgesette probleme met medisynevoorsiening raak pasiënte en gesondheidsdienste in die Wes-Kaap.
Die provinsiale minister van gesondheid en welstand, Mireille Wenger, vra nou gekoördineerde nasionale optrede.
Volgens die departement word voorraad deur vervaardigingsprobleme, regulatoriese struikelblokke en verskaffersbeperkings geraak.
Vertragings met invoer, doeane en die toetsing en vrystelling van sekere me-disyne dra ook daartoe by.
Wenger het die kwessie reeds in Junie by die Nasionale Gesondheidsraad laat bespreek.
Sy het in September aan die nasionale minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, geskryf en duidelike tydraamwerke vir ingryping versoek.
Sy sê beter monitering tussen provinsies kan help om tekorte vroeër te identifiseer en beskikbare voorraad waar nodig te herverdeel.
Die provinsiale departement monitor voorraad weekliks by die Kaapse Mediese Depot, verskuif voorraad tussen fasiliteite en soek alternatiewe waar moontlik. Wanneer voorgeskrewe medisyne nie beskikbaar is nie, werk aptekers en klinici saam om ’n geskikte alternatief te voorsien.
Kleiner hoeveelhede kan ook uitgereik word terwyl verdere voorraad bekom word.
Pasiënte word aangemoedig om steeds hul medisyne af te haal en vrae te vra indien dit anders lyk of hul behandeling verander.
Hulle moet eers met ’n gesondheidswerker praat voordat hulle verander hoe hulle hul medisyne gebruik.
Medisynetekorte bly ’n kopseer
Foto: Unsplash
Be the first to comment on "Medisynetekorte bly ’n kopseer"