Vir Mienke Lamprecht (12) en haar sussie, Anja (10), is ’n pakkie voor die voordeur rede vir groot opgewondenheid. Dit beteken daar is weer skryfbehoeftes wat hulle saam met hul ma, Marisa, kan gereedmaak vir ander kinders.
Dié gesin se skryfbehoefteprojek loop nou vir die derde jaar en help reeds vyf skole in die gemeenskap. Hulle hoop om vanjaar genoeg in te samel om agt skole te ondersteun.
Die twee susters speel ’n groot rol om elke skenking vir sy nuwe eienaar voor te berei. Hulle trek naamplakkers af, was potloodsakkies en blikkies uit, maak potlode skerp en sorteer en bondel die skryfbehoeftes. Wanneer hulle middae tuiskom en ’n skenking voor die deur kry, kan hulle nie wag om aan die werk te spring nie. Elke potlood en kryt word gereedgemaak om weer in ’n ander kind se hande gebruik te word.
Marisa doen by die skole navraag oor hul behoeftes, sodat die skenkings daar versprei kan word waar dit nodig is. Skêre, liniale, gom, potlode, penne en kryte is welkom. “Dit hoef nie splinternuut te wees nie, gebreekte kryte kan immers steeds inkleur.” Vertel Marisa.
Deur saam met hul ma moue op te rol, wys Mienke en Anja dat ’n mens nie groot hoef te wees om ’n verskil te maak nie. Skenkings kan by Marisa afgegee word, of reëlings kan vir afhaal getref word. Kontak haar per WhatsApp by 073 172 3119. (ANGELIQUE ERASMUS)
Gebreekte kryte kan nog inkleur
Mieke Lamprecht, haar ma, Marisa, en sussie, Anja, gee gebruikte skryfbehoeftes nuwe lewe om leerders by plaaslike skole te help. Foto: Pieter van der Walt
Be the first to comment on "Gebreekte kryte kan nog inkleur"