Oudtshoorn se eie Mooiste Mia maak gereed vir ’n nuwe hoofstuk. Mia le Roux, voormalige Mej. Suid-Afrika, en haar verloofde, Luke ten Oever, haak eersdaags die knoop deur. Die presiese datum en plek bly voorlopig ’n goed bewaarde geheim.
Mia se opgewondenheid was reeds einde September op Facebook tasbaar. Sy het geskryf dat sy net die trourok in haar gedagtes sien, en bygevoeg: “Ek is opgewonde julle, ek hoop julle is ook!”
Sy het ook vertel dat sy hard oefen ter voorbereiding van haar groot dag.
Die feesvieringe het vroeg in Oktober met haar hennepartytjie begin. Mia het ook haar strooimeisies met ’n deftige teepartytjie en spesiale geskenke bederf.
Volgens haar was die “high tea” koninklikes waardig, en haar strooimeisies stuur steeds boodskappe oor hoe opgewonde hulle oor hul geskenke is..
Die Hoorn het in Augustus 2024 oor die oud-Struisie se kroning as Mej. Suid-Afrika berig. Haar ouers, Schalk en Liesel le Roux, het haar destyds as liefdevol, nederig en vriendelik beskryf, met ’n sterk wil en die moed om uitdagings aan te pak.
Nou tel Mia en Luke die dae af tot hul groot “ja”. Die trouplanne bly nog onder die sluier, maar die opgewondenheid is beslis geen geheim nie.

Be the first to comment on "Mia se groot dag kom nader"