Leerderwangedrag, die veiligheid van onderwysers en die regte van kinders wat wil leer, is kwessies wat volgens ’n afgetrede onderwyser dringende aandag verg.
Glen Snyman, ’n afgetrede onderwyser met 20 jaar se onderwyservaring, meen dat skole se gedragskodes strenger toegepas moet word en dat die onderwysdepartement groter verantwoordelikheid moet aanvaar wanneer onderwysers en leerders se veiligheid in gedrang kom.
Hy het onlangs tydens die Kaapse Forum se onderwyssimposium, wat Saterdag, 10 Oktober, in Oudtshoorn plaasgevind het, oor leerderdissipline en die verantwoordelikhede van die onderwysdepartement gepraat.
Snyman, wat aan die einde van Desember 2024 uit die onderwys getree het, was gedurende sy loopbaan aktief betrokke by vakbondwerk en arbeidsreg. Sy laaste projek voor sy aftrede was die Pardoning Teachers’ Movement, ’n groepering wat onderwysers ondersteun wat probleme met leerderwangedrag in die klaskamer ervaar.
Volgens hom moet daar nie net na die regte van leerders wat hulle wangedra gekyk word nie, maar ook na die veiligheid van onderwysers en ander kinders.
“Ek beywer my nie net vir my regte as onderwyser en die regte van al my mede-onderwysers nie, maar ook vir die regte van die gehoorsame kind wat hom goed gedra, saamwerk en by die skool onderrig wil ontvang.”
Hy verwys na artikel 60(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, wat onder bepaalde omstandighede voorsiening maak vir staatsaanspreeklikheid vir skade of verlies wat uit skoolaktiwiteite voortspruit. Hy wys ook op die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, wat vereistes vir ’n veilige werksomgewing stel.
Snyman meen die onderwysdepartement behoort groter aanspreeklikheid te aanvaar wanneer ’n leerder ’n onderwyser of medeleerder opsetlik beseer.
“’n Onderwyser is in diens van die Onderwysdepartement. Die leerders is hulle kliënte,” verduidelik hy.
“Die huidige vreesfaktor wat gevaar vir ’n onderwyser en vir daardie leerders wat gehoorsaam is, kan inhou, is die kind wat hom wangedra.”
Volgens Snyman is ’n doeltreffende leerdergedragskode wat konsekwent toegepas word, een van die belangrikste maniere om dissipline in skole te handhaaf.
“Na my mening is die enigste manier om kinders wat hulle wangedra in bedwang te hou en te beheer, om reëls deur middel van ’n leerdergedragskode daar te stel. En dan om hierdie beleid streng toe te pas.”
Hoewel skoolbeheerliggame ’n belangrike verantwoordelikheid ten opsigte van gedragskodes het, meen hy dat baie nie daarin slaag om skole voldoende met dissiplinêre uitdagings te ondersteun nie.
Wat van die kind wat geboelie word? Nog ’n kwessie wat Snyman opper, is die hantering van leerders wat herhaaldelik ander kinders afknou of aanrand.
Hy voer aan dat die beperkinge wat op sekere vorme van straf geplaas word, daartoe kan lei dat ernstige wangedrag volgens hom nie voldoende gevolge het nie.
“Die teenoorgestelde van straf is vergifnis,” sê hy.
“Is dit byvoorbeeld regverdig om aan te neem, en word dit van ons verwag, dat wanneer een leerder ’n ander leerder gereeld by die skool slaan, die voorval elke keer vergewe en vergeet moet word? Is dit reg teenoor die slagoffer? Hoe voel daardie kind se ouers ook oor die voorval?”
Vir Snyman gaan dissipline dus nie bloot oor die straf van oortreders nie, maar ook oor die beskerming van kinders wat hulle aan die reëls hou en in ’n veilige omgewing wil leer.
Elektroniese stelsel vir leerderdissipline: As moontlike hulpmiddel het Snyman ’n elektroniese databasis vir die aantekening van leerderwangedrag ontwikkel, wat hy reeds sedert 2012 by die hoërskool waar hy onderrig gegee het, gebruik het.
Volgens hom is die stelsel gebruikersvriendelik en het hy dit gratis aan skole en kollegas beskikbaar gestel.
Hy sê hy het die idee reeds in Maart 2014 aan die destydse Wes-Kaapse minister van onderwys voorgelê. Hoewel die voorstel volgens hom positief ontvang is, het dit nie tot verdere optrede gelei nie.
In Maart 2024 het hy weer die geleentheid gehad om die databasis tydens ’n aanlyn vergadering met lede van die Wes-Kaapse onderwysminister se beleidspan te bespreek.
Snyman sê die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het destyds aan hom aangedui dat hulle nie wou hê dat ’n rekord van leerderwangedrag gehou word nie, aangesien dit gebruik kon word om ’n leerder uit die skool te sit.
Hy bevraagteken egter hoe skole herhaalde wangedrag doeltreffend kan hanteer indien daar nie behoorlike rekords daarvan gehou word nie.
“As ons nie rekord moet hou van ’n leerder se wangedrag nie, en so ’n leerder hou dan maar net aan om ander leerders te boelie, hoe los ons die probleem op?” vra hy.
Vir Snyman is die vraag uiteindelik nie net hoe skole leerders wat hulle wangedra, moet hanteer nie, maar ook hoe hulle diegene beskerm wat daagliks die gevolge van dié gedrag moet dra.
Hy meen ’n verandering in die benadering tot dissipline is nodig, en dat die veiligheid en regte van onderwysers en leerders nie op die agtergrond mag verdwyn nie.
“Ons gesindheid rondom straf moet verander. Want vandag is dit jou kind, en môre is dit my kind.” (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Wie beskerm onderwysers en leerders teen wangedrag?"