Musiekliefhebbers het Saterdag, 10 Oktober, by Surval Boutique Olive Estate in Oudtshoorn saamgetrek vir die eerste Hemelruim-musiekkonsert, waar Noemwoord, Tasché en Spoegwolf die gehoor met hul onderskeie optredes vermaak het.
Die geleentheid, wat deur die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied is, is as die Klein Karoo se eerste woestyn-disko bekendgestel en vorm ’n nuwe toevoeging tot die streek se gebeurteniskalender.
Die konsert het ’n ontspanne, gesellige atmosfeer gebied, met heelwat mense, en selfs gesinne, wat die geleentheid saam geniet het. Oud en jonk het hulself tuisgemaak en die musiek in die pragtige omgewing van Surval, met die Swartberge as agtergrond, geniet.
Oudtshoorn se eie Noemwoord het die verrigtinge afgeskop. Met sy unieke manier van storievertelling deur kletsryme het hy die gehoor aangenaam verras. Veral die verwysings na plaaslike plekke en verskynsels in sy liedjies het by Oudtshoorniete aanklank gevind en gesorg vir heelwat herkenning onder die gehoor.
Daarna was dit Tasché se beurt om die verhoog oor te neem. Met haar kenmerkende, kragtige stem het sy die gehoor bekoor en vir ’n besonderse musiekervaring gesorg.
Spoegwolf het die aand se verrigtinge met ’n energieke vertoning afgesluit. Dit het nie lank geneem voordat die gehoor op hul voete was en saam met die groep se bekende treffers gesing het nie.
Die groep het ook ’n verrassing vir die gehoor gehad toe hulle ’n liedjie gespeel het wat nog nie voorheen voor ’n gehoor uitgevoer is nie.
Beide Tasché en Spoegwolf het tydens hul optredes laat blyk dat Oudtshoorn ’n spesiale plek in hul harte het en dat dit vir hulle besonders is om hier op te tree. Hoewel Hemelruim vir die eerste keer aangebied is, lê die KKNK se volgende groot feesgeleentheid reeds voor.
Die 31ste KKNK vind van Dinsdag, 23 Maart, tot Saterdag, 27 Maart 2027, op Oudtshoorn plaas.
Met die sterre as dak en musiek wat die Klein Karoo-lug gevul het, het Hemelruim gewys dat daar min dinge so lekker is soos ’n aand se saamkuier onder die sterre.
Hemelruim laat die sterre saam sing
Noemwoord op die verhoog tydens die Hemelruim-musiekkonsert by Surval. Foto: Hans van der Veen
Be the first to comment on "Hemelruim laat die sterre saam sing"