Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) het ’n beroep op spazawinkeleie-naars en ander voedselverkopers gedoen om streng by voedselveiligheidsregulasies te hou, veral wanneer voedsel in kleiner hoeveelhede verkoop word.
Volgens die munisipaliteit het die aantal spazawinkels in die distrik die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem.
Hoewel dié winkels ’n belangrike rol speel om bekostigbare voedsel aan gemeenskappe beskikbaar te stel, kan sekere praktyke ernstige gesondheids-risiko’s vir verbruikers inhou.
Johan Compion, senior bestuurder van munisipale gesondheid, afvalbestuur en luggehalte by die TDM, sê die munisipaliteit verstaan dat baie huishoudings met beperkte begrotings moet klaarkom en daarom verkies om kleiner hoeveelhede voedsel te koop.
Hy waarsku egter dat sekere metodes om voedsel te herverpak of te verdeel, strydig met nasionale voedselveiligheids- regulasies is omdat dit die risiko van besmetting verhoog.
Wat word nie toegelaat nie?
Volgens die munisipaliteit moet spazawinkels hulle weerhou van die herverpakking van voedselprodukte soos suiker, koffie en rys in kleiner sakkies of houers. Winkeleienaars word eerder aangemoedig om produkte aan te koop wat reeds in kleiner, oorspronklik verseëlde verpakkings beskikbaar is.
Die sny of verdeling van bederfbare voedselprodukte, soos kool, polonie en brood, word ook in die verklaring uitgelig as praktyke wat vermy moet word.
Onbehoorlike hantering kan tot kruisbesmetting lei en voedselgedraagde siektes veroorsaak.
Simptome kan diarree, naarheid, braking, maagkrampe, koors en ontwatering insluit.
In ernstige gevalle kan voedselverwante infeksies selfs nierversaking, le-wersiektes, neurologiese komplikasies en hospitalisasie tot gevolg hê. Dit kan ook noodlottig wees.
Let op na geldige sertifikate
Die munisipaliteit moedig inwoners aan om seker te maak dat voedselverko-pers oor ’n geldige Sertifikaat van Aanvaarbaarheid beskik.
Dit is veral belangrik waar tuisgemaakte bederfbare produkte soos vetkoek, skons, konfyt en souse verkoop word.
Sulke produkte moet volgens die voorgeskrewe vereistes verkoel of warm gehou word, waar van toepassing.
Die TDM beklemtoon verder dat ’n sertifikaat wat aan ’n spazawinkel uitgereik word, gewoonlik slegs die verkoop van voedsel toelaat, tensy ander voedselhanteringsaktiwiteite uitdruklik daarop aangedui word.
Waar kan inwoners klagtes aanmeld?
Inwoners van Oudtshoorn en die omliggende Klein Karoo wat bekommerd is oor onveilige voedselhante-ring of moontlike oortredings, kan die TDM se afdeling vir munisipale gesondheid kontak.
Die kontakpersoon vir die Klein Karoo en Kannaland is Desmond Paulse, bestuurder van munisipale gesondheid. Hy kan by 044 272 2241 of 083 678 6530 bereik word.
Klagtes kan ook by Compion aangemeld word by 082 803 5161 of per e-pos aan info@gardenroute.gov.za.
Indien ’n klagte onbeantwoord bly, kan inwoners ’n e-pos aan communications@gardenroute.gov.za stuur. (MALISSA SPIES)
Waarskuwing oor voedselveiligheid by spazawinkels
Foto: Garden Route Municipality
Be the first to comment on "Waarskuwing oor voedselveiligheid by spazawinkels"