Mediese uitreik bring sorg en motorfietsavontuur na APD

Die span het al verskeie kere ysterperde ingespan vir ’n goeie doel. Foto verskaf

’n Dag van mediese sorg, ondersteuning en sommer ook ’n bietjie motorfietsavontuur wag op kinders en volwassenes met gestremdhede wanneer Pediatric Care Africa op Saterdag, 17 Oktober, ’n besondere uitreik by die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) in Oudtshoorn aanbied.

Tydens die uitreik sal dokters, tandartse en ander mediese personeel na verwagting sowat 85 pasiënte ondersoek. Gratis algemene gesondheidsondersoeke, tandheelkundige ondersoeke en mediese advies sal aangebied word.

Terwyl die mediese personeel met die ondersoeke besig is, wil die organiseerders ook vir die kinders en volwassenes by die sentrum ’n onvergeetlike ervaring bied.

Motorfietsryers word daarom genooi om deel van die geleentheid te wees en diegene wat fisies daartoe in staat is, op ’n kort motorfietsrit te neem. Vir diegene wat nie kan of wil saamry nie, sal daar steeds die geleentheid wees om die motorfietse van nader te bekyk en na die enjins te luister.

Elke APD-deelnemer wat ’n motorfietsrit onderneem, sal ’n spesiale 2026 Ride for a Child-wapen ontvang as deel van Pediatric Care Africa se program. Die organiseerders hoop om met dié gebaar nie net opgewondenheid te skep nie, maar ook ’n kind se droom te verwesenlik en ’n glimlag op hul gesigte te sit.

Motorfietsryers wat graag hul ondersteuning wil wys, word versoek om Saterdagoggend om 10:00 by die APD-sentrum by GG Kamp in Oudtshoorn bymekaar te kom.

Die mediese uitreik begin reeds om 09:00. Besoekers sal ook meer kan uitvind oor die sentrum se opknappingsprojek en hoe hulle ’n bydrae kan lewer.

Old Mutual sal boonop die geleentheid bied om gratis ’n testament te laat opstel en bestaande polisse kosteloos te laat nagaan.
Motorfietsryers wat wil deelneem, word aangemoedig om hul teenwoordigheid vooraf by die organiseerders te bevestig. Vir navrae of om deelname te bevestig, kontak Demorian by 081 086 1886 of Joyce by 076 229 5663.

Be the first to comment on "Mediese uitreik bring sorg en motorfietsavontuur na APD"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*