Oudtshoorn het R5 miljoen ontvang vir noodherstelwerk aan strate wat deur die erge weer in Mei vanjaar beskadig is.
Die toekenning vorm deel van R26 miljoen se rampreaksiefinansiering wat die Nasionale Rampbestuursentrum aan vyf munisipaliteite in die Tuinroete beskikbaar gestel het.
Volgens Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, ontvang Kannaland R6 miljoen, terwyl Oudtshoorn, George, Knysna en Bitou elk R5 miljoen ontvang.
In Kannaland sal herstelwerk aan een van Calitzdorp se hooftoegangsbrûe aandag kry. Noodherstelwerk en beskermingsmaatreëls by ’n transformator in Ladismith word ook beoog.
George se toekenning sal hoofsaaklik gebruik word vir herstelwerk aan die hoofwaterpyplyn vanaf die Haarlemdam na Uniondale.
Die geld moet binne ses maande bestee word om skade weens die erge weer in Mei te herstel. Die finansiering stel munisipaliteite in staat om met herstelwerk te begin sonder om vir ’n nuwe munisipale begrotingsiklus te wag.
Die betrokke rampbestuursentrums en die distriksmunisipaliteit sal die besteding monitor. Munisipaliteite moet ook verslag doen oor hul gereedheid om die goedgekeurde projekte uit te voer.

Be the first to comment on "R5 miljoen vir noodherstelwerk aan Oudtshoorn se strate"