Groot getalle, klein resultate?

Foto: AI

Duisende volgelinge, honderde ‘likes’ en indrukwekkende sosialemediaprofiele. Maar hoeveel van daardie volgelinge is werklik eg? En hoeveel Klein Karoo-ondernemings betaal duur vir advertensies wat min potensiële kliënte bereik?

Vandag kan feitlik enigiemand met ’n selfoon en ’n groot volgelingetal hulself as ’n smaakmaker (influencer) of bemarkingsplatform aanbied.

Maar ondernemings moet weet: Sosialemediavolgelinge, ‘likes’, kommentaar en selfs videokyke kan gekoop word. ’n Profiel met 100 000 volgelinge verteenwoordig dus nie noodwendig 100 000 werklike belangstellendes nie.

Ja, jy kan volgelinge koop: Aanlyndienste verkoop reeds jare lank kunsmatige volgelinge en interaksies. Meta, die moedermaatskappy van Facebook en Instagram, het self al regstappe teen verskaffers van vals volgelinge, ‘likes’ en kyke gedoen.

Sulke dienste gebruik onder meer outomatiese rekeninge, sogenaamde bots, om gewildheid voor te gee. Ander rekeninge is onaktief of toon geen belangstelling in die inhoud nie.

Dit skep ’n wanindruk wanneer ondernemings volgelinggetalle as bewys van bemarkingswaarde aanvaar.

Wat is normale groei? Volgens Socialinsider se Facebook-maatstawwe vir 2026, gebaseer op meer as 130 000 sakebladsye gedurende 2024 en 2025, was die gemiddelde jaarlikse volgelingegroei gedurende 2025 ongeveer 23,2%. Dit verteenwoordig ’n berekende saamgestelde groeikoers van sowat 1,75% per maand.

Groei hang ook van die blad se grootte af. ’n Blad met 10 000 volgelinge wat jaarliks teen 23,2% groei, sal ná een jaar ongeveer 12 320 en ná twee jaar sowat 15 178 volgelinge hê.

Wanneer ’n profiel binne ’n jaar van 10 000 tot 100 000 volgelinge groei, is dit sinvol om te vra waarom. Dit bewys nie dat volgelinge gekoop is nie. Virale video’s, groot nuusgebeure en betaalde bemarkingsveldtogte kan vinnige, egte groei veroorsaak. Sakebladsye se groei kan ook van inhoudskeppers s’n verskil.

Hoe weet jy of iemand volgelinge gekoop het? ’n Facebook-profiel het byvoorbeeld 100 000 volgelinge, maar ontvang gemiddeld min ‘likes’ en kommentaar per plasing. Maak die som, deel die reaksies deur die hoeveelheid volgelinge en jy sal verbaas wees dat die persentasie soms tot minder as 1% kan wees.

Ander waarskuwingstekens sluit in skielike, onverklaarbare groei, herhalende, generiese kommentaar en ’n gehoor wat hoofsaaklik buite die onderneming se teikenmark woon.

Die belangrikste toets? Vra vir bewyse. Versoek statistieke oor minstens ses maande, insluitend werklike bereik, die gehoor se geografiese verspreiding en advertensieprestasie.

Geen enkele waarskuwingsteken bewys dat volgelinge gekoop is nie. Dit behoort ondernemings egter aan te moedig om hul huiswerk te doen.

Wie betaal die prys? Die adverteerder! ’n Plaaslike onderneming betaal bv. R5 000 vir ’n veldtog omdat ’n smaakmaker groot bereik belowe. Maar wat gebeur indien die volgelinge kunsmatig is, die bereik laag is of die gehoor nie by die teikenmark pas nie?

Die onderneming kan verkeerdelik glo sosialemediabemarking werk nie, terwyl die probleem ’n ongeskikte platform, onbetrokke gehoor of misleidende aansprake is.

Volgelinge, ‘likes’, bereik en videokyke beteken ook verskillende dinge.

Dieselfde persoon kan ’n video herhaaldelik kyk, terwyl ’n blad nie al sy volgelinge met elke plasing bereik nie.

Betaal jy vir potensiële kliënte of bloot indrukwekkende syfers?

Geloofwaardigheid word nie oornag gebou nie: Die Hoorn is reeds 25 jaar deel van die Klein Karoo en het gevestigde verhoudings met lesers, ondernemings en inwoners opgebou.

Met ’n gesamentlike 130 000 volgelinge en intekeninge op vyf sosialemediaplatforms en sy webtuiste, strek die koerant se digitale voetspoor veel verder as Oudtshoorn, en groei steeds elke dag.

Die platforms sluit Facebook, Instagram, TikTok, Threads en You-Tube in.

Byna 14 miljoen kyke op een nuusstorie: Die Hoorn se deurlopende dekking van die nuusstorie oor Saag Jonker, wat Sondag 27 September begin het, het teen 5 Oktober byna 14 miljoen kyke op vier platforms aangeteken. Die storie het nasionaal “getrend” en baie aandag gelok.

Dit verteenwoordig kyke, nie noodwendig unieke persone nie. Een suksesvolle nuusstorie waarborg ook nie soortgelyke advertensieresultate nie, maar toon hoe wyd plaaslike inhoud versprei kan word.

Die waarde lê ook in ’n gehoor wat die koerant vrywillig volg omdat hulle in hul gemeenskap belangstel.

Die regte advertensie op die regte platform: Selfs miljoene kyke beteken min indien ’n onderneming nie die regte mense bereik nie.

Wie is jou teikenmark, en waar bereik jy hulle die beste? By Die Hoorn is die doel om saam met die kliënt die geskikste platform vir sy produk, diens en begroting te bepaal.

’n Gastehuis in Oudtshoorn wil spesiale verblyftariewe adverteer om besoekers van elders in Suid-Afrika te lok. ’n Sosialemediaveldtog wat mense buite Oudtshoorn teiken, kan meer waarde bied as ’n advertensie uitsluitlik in die plaaslike gedrukte koerant.

Daarteenoor kan ’n plaaslike supermark se winskopies uitstekend deur die gedrukte koerant asook sosiale media bemark word. Die koerant bereik lesers wat hul weeklikse inkopies beplan, terwyl sosiale media die aanbiedinge vinnig versprei en mense aanmoedig om dit te deel.

Dieselfde platforms, maar verskillende produkte, teikenmarkte en strategieë. Dit is die verskil tussen bloot advertensies verkoop en doelgerigte bemarkingsadvies gee. Deur gedrukte en digitale media strategies te kombineer, kan ondernemings hul begrotings doeltreffender aanwend.

Betaal vir resultate, nie beloftes nie: Sosialemediabemarking bied uitstekende geleenthede en talle geloofwaardige smaakmakers en inhoudskeppers het lojale gehore.

Maar volgelinggetalle behoort nie die enigste maatstaf vir advertensiewaarde te wees nie. Vra vir bewyse van bereik, gehoorsamestelling, groei en advertensieprestasie.

Daar is ’n groot verskil tussen wettige betaalde advertensies wat werklike mense bereik en die aankoop van vals volgelinge om gewildheid voor te gee. Elke mediaplatform behoort sy aansprake met syfers en bewyse te kan staaf.

Jy kan volgelinge, ‘likes’ en kyke koop. Maar jy kan nie 25 jaar se geloofwaardigheid, gemeenskapsvertroue en ’n lojale gehoor sommer met ’n bankkaart koop nie.

Die beste advertensie is nie noodwendig die een wat deur die meeste mense gesien word nie, maar die een wat deur die regte mense gesien word.

Be the first to comment on "Groot getalle, klein resultate?"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*