Briewe van lesers: Agter elke redding is ’n mens wat ook moeg raak

Omdat baie van die sake waarmee die organisasies werk sensitiewe materiaal bevat, word die gevoel in die brief deur middel van Kunsmatige Intelligensie geïllustreer.

Geagte Redakteur,
Ek skryf hierdie brief anoniem omdat dit nie oor een persoon of een organisasie gaan nie. Dit gaan oor die mense in ons dorp en omgewing wat dag ná dag probeer keer dat diere deur die krake val — dikwels ten koste van hul eie beswil, gesinstyd en gemoedsrus.

Op sosiale media tik ’n mens maklik: “Hoekom doen hulle niks nie?” “Hoekom antwoord niemand die telefoon nie?” “Waar is die dierewelsyn?”

Maar hoeveel mense vra ooit: Hoe gaan dit met die persoon wat daardie telefoon moet antwoord?

Daardie persoon sit dalk op daardie oomblik met ’n beseerde dier by die veearts. Of maak hokke skoon. Of probeer vervoer reël. Of staan voor ’n dier waarvoor hulp te laat gekom het — en moet daarna steeds die volgende oproep beantwoord.

Die mense wat hierdie werk doen, werk vrek hard. Hulle gee hul tyd, brandstof, geld en aandag. Hulle skuif hul eie planne opsy, onderbreek etes en staan ná ure op wanneer die meeste inwoners reeds veilig en warm by die huis is.

En wanneer hulle uiteindelik gaan lê, hou die bekommernis nie noodwendig op nie. Daar is steeds die dier waarvoor daar nie plek is nie, die rekening waarvoor daar nie geld is nie en die boodskap van iemand wat dringend hulp soek.

Hulle is nie net besig nie. Hulle is onder druk. Hulle is emosioneel oorlaai. En baie van hulle is uitgeput.

Tog probeer hulle weer. Want die diere kan nie self hulp vra nie.

Die publiek sien nie alles wat agter die skerms gebeur nie. Nie elke huisbesoek, redding of sensitiewe ondersoek word op Facebook aan die klok gehang nie. Daar is goeie redes waarom besonderhede soms vertroulik hanteer moet word. Die afwesigheid van ’n plasing is nie bewys dat niemand iets gedoen het nie.

Elke organisasie het ook sy eie fokus. Sommige help met sterilisasies, ander met reddings, versorging of opvoeding. Hulle kan nie almal alles doen nie. Hulle het nie onbeperkte voertuie, personeel, hokke of geld nie.

Wanneer iemand sê daar is nie plek nie, beteken dit nie noodwendig daar is nie deernis nie. Dit kan beteken elke beskikbare hok is reeds oorvol.

Wanneer iemand nie dadelik antwoord nie, beteken dit nie hulle gee nie om nie. Hulle hande is dalk letterlik vol baba katjies of ’n hond se slap lyfie wat besig is om te sterf weens hongersnood.

Dan is daar die diere wat by die skut of ’n organisasie afgelaai word, met die verwagting dat iemand anders nou alles moet uitsorteer: kos, medisyne, versorging, sterilisasie en ’n nuwe huis.

Maar daardie “iemand anders” is ook net ’n mens. En die geld moet iewers vandaan kom.

Elke nuwe werpsel wat voorkom kon word, plaas verdere druk op ’n stelsel wat reeds sukkel. Elke dier wat sonder reëlings afgelaai word, vra plek en hulpbronne wat moontlik reeds vir ’n ander dier nodig is.

Jou dier se verantwoordelikheid verdwyn nie wanneer jy hom by iemand anders se hek los nie. Dit beland op iemand anders se skouers.

Steriliseer jou diere. Hou hulle veilig op jou erf. Vra vroegtydig hulp as jy sukkel, voordat daar nóg kleintjies is waarvoor niemand kan sorg nie. Indien jy nie meer jou dier kan versorg nie, tref verantwoordelike reëlings en wees eerlik oor jou omstandighede.

Niemand sê mense mag nie vrae vra of organisasies aanspreeklik hou nie. Maar daar is ’n verskil tussen ’n billike navraag en ’n openbare aanval op mense wie se werk en omstandighede jy nie ken nie.

Kwaai boodskappe maak nie nog ’n hok beskikbaar nie. Beledigings betaal nie ’n veeartsrekening nie. Beskuldigings gee nie ’n uitgeputte vrywilliger nuwe krag nie. Praktiese hulp kan wel.

Bied vervoer aan. Skenk kos of betaal ’n bedrag wat jy kan bekostig vir ’n organisasie van jou keuse in. Selfs R10 kan ’n verskil maak. Help met skoonmaak of fondsinsamelings. Bied, waar moontlik en in samewerking met ’n organisasie, ’n tydelike veilige tuiste. Meld nood akkuraat aan en vra wat jy intussen kan doen, soos byvoorbeeld om ’n rondloper of verdwaalde dier by jou te hou.

En vra gerus vir die mense wat help: “Wat het julle nodig?”

Dierewelsyn kan nie volhoubaar op dieselfde paar mense se opoffering bly staatmaak terwyl die res van ons net verwag, eis en oordeel nie.

Die mense agter die reddings het ook grense. Hulle kan ook breek. Ons behoort nie te wag totdat hulle opgee voordat ons besef hoeveel hulle gedra het nie.

Ons het meer hande nodig. Meer verantwoordelike eienaars. Meer ondersteuning vir die mense wat aanhou opdaag, selfs wanneer hulle self min oor het om te gee, en beslis minder kritietk. Groete,

  • ’n Besorgde diereliefhebber en vrywilliger.

Be the first to comment on "Briewe van lesers: Agter elke redding is ’n mens wat ook moeg raak"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*