Die welstand, veiligheid en toekoms van kinders was die hooffokus van ’n onlangse vergadering waartydens Huis Triomf, wat onder die naam Elroi bedryf word, en die ACVV se Suid-Kaapse streekkantoor hul samewerking herbevestig het.
Die vergadering volg op leierskapsveranderinge by die Oudtshoornse kinder- en jeugsorgsentrum.
Albei partye wil ’n veilige, stabiele en ondersteunende omgewing vir die kinders verseker.
Onder leiding van die nuwe bestuurder, ds. Gerald Kamfer, is die fasiliteite en werksomgewing opgeknap.
Volgens die sentrum is daar nou ruimte vir 60 kinders, met 49 wat tans ingeskryf is. Die verbeterings is volgens die sentrum ook tydens ’n inspeksie deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling erken.
“Daar is ’n nuwe fokus en rigting by die huis. Ons wil saam met die ACVV die goeie naam van die kinderhuis herbou en versterk, altyd met die beste belang van die kinders wat aan ons toevertrou is, as uitgangspunt,” sê Kamfer.
Nicolette van der Walt, bedryfshoof van die ACVV, het die verbeterings verwelkom. Volgens haar bied die ACVV leiding, ondersteuning en statutêre toesig om te verseker dat dienste binne die raamwerk van die Kinderwet gelewer word.
Die kinderhuis nooi ondernemings, organisasies en individue om te help bou aan ’n volhoubare toekoms vir die kinders.
Die algemene jaarvergadering vind op 30 November om 18:30 by die Queens Hotel in Oudtshoorn plaas. Vir navrae of om bywoning te bevestig, kontak Kamfer by 071 878 0282.
Huis Triomf en ACVV versterk samewerking
Voor vlnr: Nicolette van der Walt, ACVV-bedryfshoof, en Tossie du Toit, ACVV-streeksbestuurder. Agter vlnr: pastoor Christo Nel (Huis Triomf bestuurslid) ds. Gerald Kamfer, bestuurder van Huis Triomf (Elroi); en pastoor Willie Coetzee, (Huis Triomf bestuurslid). Foto verskaf
Be the first to comment on "Huis Triomf en ACVV versterk samewerking"