Meer as 56 000 kiesers is in die Oudtshoornse munisipale gebied geregistreer. Wat beteken elke kruisie, en hoe help dit bepaal wie die dorp bestuur?
Wie gaan Oudtshoorn ná 4 November bestuur? Kiesers help om dié besluit te neem, maar die pad van jou kruisie tot die verkiesing van ’n burgemeester is nie vir almal duidelik nie.
Waarom kry jy drie stembriewe? Moet jy op elkeen dieselfde party kies? En wat gebeur as geen party ’n meerderheid behaal nie?
Die Hoorn verduidelik hoe die munisipale verkiesing werk en wat jy moet weet voordat jy gaan stem.
V: Hoe vind ek uit waar ek moet stem?
A: Besoek www.elections.org.za en gaan jou registrasiebesonderhede na. Dit wys jou registrasiestatus, wyknommer en stemlokaal.
Jy kan ook jou ID-nommer na 32810 SMS. Volgens die OVK kos dit R1 per SMS. Doen dit vooraf sodat jy weet waarheen om op stemdag te gaan.
V: Kan ek by enige stemlokaal gaan stem?
A: Nee. Vir die munisipale verkiesing moet jy stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is.
Moenie aanvaar dit is dieselfde lokaal as met die vorige verkiesing nie. Lokale kan verander, daarom moet jy jou besonderhede vooraf bevestig.
V: Wat moet ek op stemdag saambring?
A: Bring jou oorspronklike groen ID-boek met ’n strepieskode, jou slim-ID-kaart of ’n geldige tydelike identiteitsdokument wat deur Binnelandse Sake uitgereik is.
’n Bestuurslisensie of paspoort vervang nie dié dokumente nie. As jou ID weggeraak het, doen vooraf by Binnelandse Sake navraag oor ’n tydelike identiteitsdokument.
Water en ’n hoed kan handig wees indien jy buite in die ry moet wag.
V: Hoe laat maak die stemlokale oop en toe?
A: Stemlokale is op verkiesingsdag van 07:00 tot 21:00 oop, tensy die OVK amptelik ander reëlings aankondig. Maak seker jy laat genoeg tyd toe om by die regte lokaal uit te kom.
V: Wat as ek om 21:00 nog in die ry staan?
A: As jy met sluitingstyd reeds in die ry by die stemlokaal staan, moet jy steeds toegelaat word om te stem. Bly in die ry en volg die verkiesingsbeamptes se aanwysings.
V: Waarna moet ek kyk wanneer ek my stembriewe ontvang?
A: Maak seker elke stembrief het die OVK se amptelike stempel agterop. As die stempel ontbreek, wys dit aan ’n verkiesingsbeampte voordat jy gaan stem.
V: Wat gebeur as ek my kruisie op die verkeerde plek trek?
A: Vra die voorsittende beampte vir ’n nuwe stembrief voordat jy die foutiewe een in die stembus plaas.
Die foutiewe stembrief moet gekanselleer word.
Sodra dit in die stembus is, kan dit nie uitgehaal word om jou keuse te verander nie.
V: Mag ek ’n politieke party se T-hemp dra wanneer ek stem?
A: Ja. As kieser mag jy partyklere dra, maar jy mag nie binne die stemlokaal se afgebakende terrein steun werf of ander kiesers probeer beïnvloed nie.
V: Mag ek ’n foto van my gemerkte stembrief neem?
A: Nee. Jy mag nie jou gemerkte stembrief afneem nie. Jou stem is geheim en jy hoef aan niemand te bewys vir wie jy gestem het nie.
V: Wanneer vind spesiale stemme plaas?
A: Goedgekeurde spesiale stemme vind op 2 en 3 November plaas. Aansoeke het reeds op 12 Oktober gesluit.
Kiesers wie se aansoeke goedgekeur is, stem volgens hul goedgekeurde reëlings by ’n stemlokaal of tydens ’n huisbesoek deur verkiesingsbeamptes.
V: Waar kan ek die uitslae sien?
A: Die OVK publiseer amptelike uitslae op results.elections.org.za.
Vroeë uitslae weerspieël slegs die stemme wat reeds verwerk is. Wag dus op die finale uitslae voordat gevolgtrekkings oor die samestelling van die raad gemaak word.
V: Hoe weet ek of verkiesingsinligting betroubaar is?
A: Misleidende inligting en vals nuus kan voor, tydens en ná die verkiesing versprei. Moenie aanvaar ’n boodskap is waar bloot omdat dit wyd op WhatsApp of Facebook gedeel word nie.
Gaan die bron en datum na en bevestig inligting oor stemreëlings en uitslae op die OVK se webwerf,
www.elections.org.za, of amptelike sosialemediakanale.
As jy onseker is of iets waar is, moenie dit verder versprei nie.
V: Stem ek ook vir die burgemeester?
A: Nee. Jy stem vir verteenwoordiging in die munisipale raad.
Die raadslede kies daarna die burgemeester uit hul geledere.
’n Party se aangekondigde burgemeesterskandidaat word dus nie outomaties burgemeester nie.
V: Wat beteken “proporsionele verteenwoordiging”?
A: Dit beteken partye kry verteenwoordiging volgens hul steun in die verkiesing.
Partye dien vooraf kandidaatlyste in waaruit proporsionele raadslede aangewys word.
Die plaaslike raad bestaan uit wyksraadslede én proporsionele raadslede.
Hoeveel wyke ’n party wen, bepaal dus nie op sy eie hoeveel setels die party uiteindelik in die raad kry nie.
V: Beteken die meeste setels dat ’n party die dorp gaan bestuur?
A: Nie noodwendig nie.
’n Party het ’n volstrekte meerderheid wanneer hy meer as die helfte van die raadsetels het.
As geen party dié meerderheid behaal nie, kan partye steun by mekaar soek om ampsdraers te verkies en besluite deur te voer.
Hulle kan ’n koalisie vorm waarin hulle ooreenkom om saam te regeer.
Die party met die meeste setels kan dus steeds van ander partye se steun afhanklik wees.
Voor jy stem: Jou vrae beantwoord

Be the first to comment on "Voor jy stem: Jou vrae beantwoord"