Kom stap saam vir ’n goeie doel

Pienk of blou, vere of ’n tutu, solank die stapskoene saamkom! FAMSA Karoo en Die Hoorn nooi inwoners om op Vrydag 30 Oktober om 10:00 saam te stap vir bewusmaking van kankers wat mans en vroue raak.

Die bewusmakingsstap in Oudtshoorn is ook ’n fondsinsameling ten bate van FAMSA Karoo.

FAMSA Karoo werk om gesinne te ondersteun en te versterk. Die organisasie bied onder meer gesins- en verhoudingsberading, asook ondersteuning aan mense wat trauma beleef het, en is ook by gemeenskapsprojekte betrokke.

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand en FAMSA Karoo se fokus val in dié maand op borsondersoeke en papsmere. In November, wat dikwels met die Movember-veldtog verbind word, verskuif die aandag na mansgesondheid, met onder meer PSA-toetse.

Hou FAMSA Karoo se Facebook-blad dop vir meer besonderhede oor dié inisiatiewe.

Die pienk en blou stap op 30 Oktober vorm dus ’n gepaste brug tussen die twee maande, met bewusmaking van vroue én mans se gesondheid. Deelname kos net R50 per persoon en die volle inskrywingsbedrag gaan aan FAMSA Karoo.

Plaaslike besighede word uitgedaag om hul personeel bymekaar te kry en in groepe te kom saamstap. Die stap word van 10:00 tot 11:00 beplan, sodat deelnemers gedurende die werksdag ’n goeie doel kan ondersteun sonder om te lank van die kantoor af weg te wees.

Deelnemers word aangemoedig om kleurvol aan te trek, veral in pienk en blou. Daar is pryse vir die bes geklede deelnemers, so kry gerus jou kleurvolste uitrusting reg!

Die eerste 100 deelnemers ontvang gratis roomys van Paul’s Homemade Ice Cream. Honde is ook welkom om saam te stap, mits hulle aan ’n leiband gehou word.

Gratis PSA-vingerpriktoetse sal op die dag aangebied word. Die FAMSA Karoo-span sal ook teenwoordig wees om vroue te wys hoe om tuis ’n borsondersoek te doen.

Die bymekaarkompunt is Wilck Spar. Die roete van net minder as 5 km loop van daar na Adderleystraat, dan na Scheepersstraat en Baron van Reedestraat, voordat deelnemers na Wilck Spar terugkeer. Stappers word aangemoedig om sonskerm aan te smeer en ’n hoed te dra.



Inskrywingsgeld kan in FAMSA Karoo se bankrekening inbetaal word. Stuur die bewys van betaling aan Adri Odendaal by 072 133 0444.

Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: FAMSA KAROO
Bank: ABSA
Rekeningnommer: 1002200259
Rekeningtipe: Tjekrekening (Current Account)
Verwysing: Stap, Naam en Van

Besighede wat verder by die inisiatief betrokke wil raak, kan Malissa Spies by 083 388 3684 of editor@hoorn.co.za kontak. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Kom stap saam vir ’n goeie doel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*